Die Groot Kruger Nationale Park

Vir my is die Krugerwildtuin heelwat meer as net olifante, leeus en ander diere. Dit is veral die geskiedenis van die area wat my interesseer.

Die eerste ontdekkersreisiger was die Nederlander Francois de Cuiper wat ‘n ekspidisie van die Oos-Indiese Kompanjie gelei het. Die ekspidisie was aangeval en verdryf.

Ongeveer 1838 kon ‘n voortrekker-ekspidisie onder leiding van Louis Trichardt en Hans van Rensburg voorposte vestig.

Gerugte van goud en groot hoeveelhede waardevolle kommoditeite soos ivoor en velle het honderde Europeërs en boere na die laeveld gelok. Agv jag en handel in ivoor en velle het die wildgetalle dramaties begin afneem.

Die vinnige vernietiging het onder die aandag van Pres. Kruger gekom en in 1898 proklameer Pres. Paul Kruger – president van die Transvaal die Sabie-wildreservaat. Dis die gebied tussen die Krokodil- en Sabierivier. (Tussen 1899 en 1902 tydens die Anglo-Boereoorlog word die proklomasie van die Sabiereservaat nietig verklaar.) Maar in 1902 is dit herstel. Kol. James Stevenson word in 1902 aangestel as die eerste opsiener. In 1903 herproklameer die Britte die reservaat en sluit Shingwedzi-wildreservaat, die gebied tussen die Letaba- en Limpoporivier, in.

In 1905 skryf Stevenson-Hamilton in sy jaarverslag dat ‘n klein trop, ongeveer 10 olifante in die Ysterhoutwoude op die oosgrens met Mozambiek by die samevloeiing van die Letaba- en Olifantsrivier gekry is.

Dis eers in 1926 dat die nationale parkewet uitgevaardig is en die Kruger as nationale park verklaar is. En in 1927 word die wildtuin vir besoekers oopgestel.

Vandag is die Kruger Nationale park 19 623 vk km. Dit strek oor 360 km van noord na suid en 65 km van oos na wes.

Die Limpopo- en Luvuburiviere dien as ‘n natuurlike grens in die noorde, die Sabie- en Krokodilriviere as die suidelike grens. Die Olifants- en Letaba-riviere kruis die park van wes na oos. Die Olifantsrivier verdeel ook die park in twee ekologiese en plantgroei-sones. Die Lebombo-berge vorm die skeiding in die ooste teen Mozambiek.

  • Die groot 5 word in die Kruger aangetref: die Leeu, luiperd- as ook die jagluiperd, Afrikaanse bosolifant; renosters en buffels.
  • In die Krugerpark kom meer spesies groot soogdiere (147 spesies) voor as in enige ander Afrika-wildreservaat.
  • Troppe bedreigde Afrika-wildehonde word hier gehuisves.
  • Die 4 hoofveldtipes word deur die reënval (400 tot 750 mm per jaar) en die geologiese strate bepaal.
    • Struikmopanieveld in byna die hele noordoostelike deel van die park.
    • Rooi boswilger en mopanieveld in die westelike helfte, noord van die Olifantsrivier. ( die rooi boswilger en die mopanieboom is hier prominent.
    • Doringboom en rooi boswilgerveld lê tussen die westelike grens tot ongeveer in die middel van die park suid van die Olifantsrivier. Die rooi boswilgers, akasia spesies en maroelabome oorheers hier.
    • Knopdoring- en maroelaveld bied in die oostelike helfte die belangrikste weidingsgrond. Rooigras en buffelgras oorheers, terwyl die knopdoring, loodhout en maroela die belangrikste boomspesies is.
    • Verskeie kleiner gebiede dra ‘n kenmerkende plantegroei. * Die Pretoriuskop en Malelane-bergbosveld ontvang hoë reënval. Sekelbos en silwer trosblaar is hier prominent. * Noordoos van Punda Maria is die sandveldgemeenskappe met ‘n wye verskeidenheid unieke plantspesies ewe kenmerkend. * En in die bosbedekte heuwels langs die Levuvhu-rivier interessante florale diversiteit met paar byna-endemiese spesies.
  • Die Park spog met 480 plus voëlspesies – waarvan verskeie endemies is, veral in die Pafurie omgewing waar verskeie voëls vanuit Afrika migreer.
  • Die swart mamba, Afrika rotsluislang en 3 000 Nylkrokodille tel onder die 114 spesies reptiele wat hier gevind word.
  • 34 spesies amfibië word hier aangetref. Sowel as 49 visspesies.
  • 219 skoenlappers. Die mopaniemot in die noordelike helfte van die park is die bekendste.
  • Die park het ook ‘n hoë diversiteit van termiete.
  • Baie spesies muskiete waarvan die Culex-, Aedes en Anophles soogdiere teiken en die wyfies die draers van malaria is, kom in die park voor.
  • Vanaf 2018 is 350 spesies spinagtiges, uitgesluit bosluise en myte, bekend. Dit sluit 7 spesies bobbejaan spinnekoppe, 9 skerpioene en pseudoskerpioenspesies, 18 son- en Romeinse spinnekoppe, 2 spesies oesmane en 1 spesie stertlose sweepskerpioene, in.

Reeds van die vroegste eeue het die San mense, Voortrekkers en Goudsoekers gesorg dat die Krugerpark ook ryk historiese en geologiese terreine het. Ron Hopkins beskryf in “Field Guide to the Historical Site of the Kruger National Park” van 61 terreine. Ongelukkig stem sy nommers nie met die park se nommers ooreen nie. Hy gee egter koördinate van die plekke aan.

Om die park met een besoek te verken is onmoontlik. Ons het die park vir ons in streke opgedeel en sorg dat ons in verskillende kampe oornag en dan daardie streek goed te verken. Verder is die park baie besig en moet jy vroeg bespreek om plek te kry.

2026 – Die Suide se beurt.

Malelane Golf Klub het ‘n lekker kampterrein sommer teen die Krokodilrivier en naby die Malelane-hek – ook heelwat goedkoper as die kampe in die park. Dis nogal ‘n besige kamp soos die mense in en uit die wildtuin beweeg.

Ons het die hele tyd lieflike uitsig oor die rivier – seekoeie, olifante, kameelperde en verskeie ander bokke het daar gewei en krokodille bak in die son. Ons het selfs die visarende op hulle nes dop gehou en die mooiste sonsondergange oor die Krugerpark ervaar.

Die negatiewe van die kamp is dat die golfklub en restaurant saam met ons die badkamers gebruik en die rugbyvelde net onder die kamp is. Met wedstryde en oefen-aande was dit nogal raserig. Die Selati Maraton was een Saterdag – 3 duisend mense het daarvoor ingeskryf. Saam met die toeskouers was dit ‘n aardige klomp.

‘n Likkewaan het gereeld ‘n draai in die kamp kom maak. Daar was ook ‘n verskeidenheid klein saadvretertjies – blousysies, rooirug freds en vele meer het op die gras gewei. Om te voorkom dat die ape hulle kom tuis maak, het ons nie kos uitgesit nie. Ek het nogal ander voël- en uilgeluide daar gemis.

Die olifante het ook gereeld met hulle kleintjies deur die rivier gekom om teen die wal aan ons kant te kom wei. Ander kere het hulle aan die park se kant gewei.

Met die lieflike golfbaan op ons drumpel kon ons vroeg oggend lekker stap. Die stroom deur die golfbaan is water wat van die suikermeule af kom. Dit ruik soet en maak stoom as die lug in die oggend koel is. Die gras en bome, party plekke is die natuurlike woud gelos, skep so ‘n rustige atmosfeer. Dis sekerlik een van die mooiste golfbane met die grootste koorsbome in ons land.

Die brug oor die Krokodilrivier is net ‘n hanetree van die kamp se uitgang – net hier begin die geleentheid om die eerste wild te sien. Krokodille en seekoeie lê sommer net hier onder die brug en waterbokke wei rustig in die groen gras teen die walle.

Vanjaar het die Krokodilrivier teen Mei-maand nog sterk gevloei. Veral nadat daar ‘n goeie bui reen deur getrek het, het die eilandjies in die rivier skielik verdwyn.

By die hek van die Krugerpark moet jy uitklim om ‘n vorm te voltooi vir jou toegangspermit. Groet vriendelik en wees maar geduldig om in die tou te wag. Gebruik die geleentheid om te hoor waar wild gesien is.

Bokant die toonbank is die pragtige elandtrofee.

Met ons “Wildcart” kon ons elke dag in die park diere gaan soek, by Berg en Dal pap en kaiings gaan eet of by Afsaal roosterkoeke gaan koop. Ons was so gelukkig om ‘n groot verskeidenheid diere op die S100 na Berg en Dal of die H3 na Afsaal te kry. Die twee paaie is geteer en dra nogal baie verkeer.

Soms is jy gelukkig om, as jy mooi kyk, die prooi in die boom te kry. En as bietjie soek sien jy die luiperd daar naby sit en rus.

Of jy is so gelukkig soos Heleen van Hoedspruit – hy is so naby dat jy hom met jou selfoon kan afneem.

Ander kere kry jy hom in ‘n boom waar hy vir die regte rooibok wag.

En dan kry jy hom waar hy aan sy prooi smul.

Berg en Dal is die kamp die naaste aan Malelane hek. Daar is ‘n winkel, restaurant, kampterrein en mooi huisies. Onderkant die restaurant is ‘n mooi wandelpad met ‘n uitsig oor ‘n dam. Ongelukkig is die ape baie lastig – hulle kom gryp jou kos uit jou bord.

Afsaal is ‘n piekniekterrein, teen die H3, met ‘n restaurant, winkel en badkamers. Dis ‘n plek om bene te rek.

Lekker vars, warm roosterkoeke met ‘n verskeidenheid vulsels of pap en wors met lekker sous is op hulle spyskaart. Daar is ook koffie en ander warm en koue drinkgoed.

Moenie jou kos onbewaak op ‘n tafel laat nie. Daar is verskeie honger diere wat jou dop hou.

Mens sê nooit “by die watergat of dam gaan niks aan nie”. Vat jou verkyker en soek rond. Jy sal verbaas wees wat daar aangaan.

Terwyl ons een dag by die Matjulu dam, anderkant Berg en Dal voëls gekyk het, het daar ‘n trop olifante stadig oor die kop na die water gewei. Soms het die koeie die kalwers laat drink of sommer net in die skadu van die groot rotse laat rus. Die grasie waarmee die groot diere om die rotse beweeg het, het ons ure besig gehou. Daar was geen haas nie. Ongelukkig was dit nogal ver vir goeie foto’s. Met ons verkykers kon ons hulle lekker dophou.

‘n Trop rooibokke het daar verby gewei en toe die son en water warmer word het die waterskilpaaie ook kom kop uitsteek.

Die lelkiewiete en suikerbekkies het by ons gewei. In die bome oorkant die lopie het verskeie arende, reiers en valke rustig gesit en vere regsskut. Ons het ook die witkoluil hier opgemerk.

Op die S23, oos van Afsaal by die Keerwal in die Biyamitirivier het ons lank gesit en weer ‘n paar keer terug gegaan.

Die groenrugreier het my man lank besig gehou, veral toe sy vissie hom ontglip het en weer in die stroom beland.

Maar spoedig het hy weer ‘n geleentheid gekry en seker gemaak dat vissie veilig in sy maag land.

Die bontvisvangers het ook uitgekyk vir ‘n kossie terwyl die reusevisvanger bietjie hoër sit vir ‘n beter uitsig.

Die grootswartooievaar, wolnek – en bloureiers sit op die sandbank agter die keerwal en hamerkoppe soek kos in die vlak water.

‘n Likkewaan het geleidelik onder die klippe uitbeweeg totdat sy hele lyf in die son bak.

En ‘n jong krokodil het die warm sementblad met ons kom deel.

Die S25 langs die Krokodilrivier na Krokodilbrug was tenspyte van die baie reëns in ‘n goeie toestand – tog kort die pad deur die driwwe aandag maar dit was nie onbegaanbaar nie.

Die pad ry mens sommer net vir die ongelooflike natuur, groot bome en die mooiste rivierlope, veral omdat daar nou baie water is. Hier sien ons min diere, nie omdat daar nie diere is nie maar omdat jy hulle nie kan sien nie. Die oewerbos is ruig – hier moet mens tyd vat om te luister en te soek.

Naby Krokodilbrug het die leeus ‘n buffel gevang – ons was net gelukkig om die aasvoëls met ‘n paar ribbebene te kry. En natuurlik ‘n verskriklike reuk.

Dis in die woude waar mens vir die klein skaarser bokkies of die koedoes wat hoog in die takke sagte groen blare pluk, soek.

Krokodilbrug het mooi grasvlaktes waar die zebras, blouwildebeeste en rooibokke rustig wei. In die verte het ‘n olifant ook stadig nader gewei. Terwyl daar ook hier en daar kameelperde uit die ruigtes gekom het. Ons sien ook gereeld waterbokke in die vleilande of riviere.

En vlakvarke soek mens nie, hulle is ooral.

Ons ry ook met die S28 teen die Mozambiekgrens. Hier is die veld ook mooi ruig en ons sien die Lebomboberge in die verte. Bosnuus het aangekondig dat daar ‘n jagluiperdwyfie met welpies verder na Onder-Sabie se kant toe is. Dit bly maar ‘n risiko om te gaan soek – as hulle dieper in die gras lê sal jy hulle nie sien nie.

In die Kruger is daar nie tyd om in die kar te slaap nie. Jou oë moet ooral wees. Dis hier teen die pad wat jy die fyner dinge raak sien. ‘n Skilpad, slang, dwergmuishondjies, fisante en die kleinste kuikentjies sommer net hier in die gras teen die pad.

Die bromvoëls hou ook daarvan om teen die pad te wei. Ons het ook jong bromvoëls in ‘n boom gekry.

En soms is jy ook gelukkig om die gewone boskraai raak te loop.

Of hoog in die bome, selfs in die lug verraai aasvoëls wat draai die leeus wat gevang het.

Die langstertlaksman is gewoonlik in die bome maar is veral mooi as hulle vlieg.

‘n Valk wat vir ‘n happie uitkyk, troupant wat wag vir ‘n skoenlapper, by of ‘n mot wat sy lewe naby aan hom waag.

Saalbekreiers wat in die boom sit en vere reg trek.

En natuurlik die bateleur of visarend.

En dan kondig die bostelegraaf aan dat daar leeus op ‘n sandbank in die Mlambanwrivier teen die S118 lê. Ongelukkig is dit nou al lê-tyd en gaan ons tevrede wees om plat leeus te sien. Maar vir ons lig hulle darem die koppe op.

Leeus vang deur die nag en as die son warm word soek hulle lêplek en as hulle eers lê staan hulle eers op wanneer die hongerpyne hulle opjaag. Dit is die hoofrede waarom mens maar vroeg in die veld moet wees.

Ons was so gelukkig om die ou grotes ‘n paar keer raak te loop. Soms staan die voertuie hulle toe – tog gee ons mekaar ‘n geleentheid vir foto’s.

Ons het ook teen die S119 na Gardeniaskuiling ‘n paar renosters raak geloop. Ons moet maar so tussen die bos-ubers deur foto’s neem. Die ander wat ons gekry het was of verby die veld in of was besig met ‘n middagslapie dat ons net rue gesien het.

Met geluk aan jou kant kry jy soms ook hienas in die pad. Die bostelegraaf beweer dat mens na die hienas wildehonde kry. Blykbaar ruim die hienas die wildehonde se mis op.

Ons kry gewoonlik wildehonde wat in troppe in die pad hardloop. Jy kan sommer ‘n paar kilomer saam met hulle ry en hulle dop hou.

Die moontlikheid om van die Kruger Nationale Park se watervoëls te sien is genoeg rede om bietjie langer by die damme, riviere of panne deur te bring.

By die Gardeniaskuiling het ons die nonnetjie-eend, langtone en waterdikkoppe wat gewoonlik aan die kant in die vlakwater wei gekry. Terwyl die bloureiers en hamerkoppe weer op die klippe in die son bak.

Vanjaar het ons net in die veld olifante gekry en soms net hier en daar een wat kom water drink het. Tog is dit so lekker om hulle dop te hou en foto’s te neem.

Soms was daar ‘n parmantige ou wat ons op die pad agterna gesit het. Ons gee hom maar genoeg ruimte om sy frustasies uit te hardloop.

Suid van Afsaal op die H2-2 by Jock se boorgat kry jy nog ‘n regte windpomp en ‘n paar kilometer verder waar jy by die S114 aansluit kry jy die gedenkplate van Jock of the Bushveld, die Uitspanplaat en die Ou Transsportpad.

Terwyl die ou transportpad vanaf en na Delagoa Baai in gebruik was, was daar verskeie plekke waar die transportwaens kon stop om te rus, hulle diere kon uitspan om te wei en water te gee. Vir hulle veiligheid en om met ander transportryers te kommunikeer was dit natuurlik die beste om in groepe uit te span.

Oppaktyd het net te gou aangebreek.

SATARA-2026

Vanaf Malelanehek tot by Satara is dit 158 km – teen 50 km ‘n uur is dit byna 4 ure se ry. Gelukkig kon ons by Tshokwane se badkamers stop. Daar is ook ‘n winkel met koffie en wegneemetes, maar baie teleurstellend. In die toekoms sal ons maar eerder ons eie kos pak. Die badkamers kort beslis ook aandag.

Na die baie reens was verskeie grondpaaie om Satara gesluit. Ander blokke is weer gebrand en het die diere getrek. In die kamp is daar slote deur die staanplekke gespoel en die onkruid groei hoog teen die bome en heinings. Die sandvlooie het ons in die aand bont gebyt. Die kamp kort ernstige aandag.

Ons het naby die agterste heining kamp opgeslaan. Daar het gereeld ‘n hiena teen die heining verby gestap opsoek na ‘n been of vleis wat oor die draad gegooi is. En ‘n vaalboskat het laat middag ‘n draai deur die kamp gemaak. Die uile en ander voëls was stil.

Die immer gewilde S100 was net 10 km oop, maar met die H6 wat ‘n teerpad is kon ons tot by die Sweni uitkykpunt en piekniekplek ry en ontbyt maak. Met ‘n gasstofie, pan en regte ontbytkos het ons manne ons lekker bederf.

Die Sweni-uitkyk en piekniekplek is van die mooiste in die Kruger. Jy staan hoog en kyk ver uit oor die rivier en vallei. Vanjaar is dit besonder stil hier. Daar is sekerlik baie water in die veld daarom kom hulle nie na die drinkplekke toe nie.

Met 4 pare oë kon ons die jagluiperd – al was hy net bokant die gras sigbaar, nie mis nie.

Ongelukkig was die S127 teen die Timbavati toe maar kon ons darem met die S40 tot by die Timbavati-piekniekplek ry. Nog ‘n heerlike plek om ontbyt te maak. En die geleentheid mis ons nie maklik nie.

Oppad terug kamp toe het ons hierdie plat leeus teen die pad gekry. Met ons vol magies het ons ook soos hulle gevoel.

Met ‘n ander geleentheid het ons die leeus in die gebrande veld gekry.

En die hienas in die pad.

En as jou braaivleis op raak is daar ‘n plan B in die winkel.

Die H1-4 na Olifantkamp stel ons ook nooit teleur nie. Daar is altyd iets wat ons besig hou. Vanjaar was daar ‘n trop leeus wat vir ‘n blouwildebees wat van agter af gekom het, gewag het. Die landskap was skuins van die leeus agter toe, daarom kon ons die leeus en die blouwildebees dophou. Die leeus het begin uitsprei maar toe draai die blouwildebees weg van hulle af. Ons by Olifantkamp gaan tee drink en oppad terug het die leeus nog daar gele waar ons hulle gelos het.

Olifantskamp is hoog op ‘n krans bokant ‘n skerp draai in die Olifantsrivier gebou. (Vir ons is dit die mooiste kamp in die Kruger.) Toeriste kan met hul verkykers troppe olifante, seekoeie, krokkodille en waterbokke uit die kamp uit besigtig. Olifantskamp se kampterrein, Balule, ‘n wilderniskamp, is 8 km van die hoofkamp af. (Balule was in die begin jare die verblyf vir die gaste van Olifantskamp se kinderoppassers of huiswerkers.)

Die Olifantsrivier is 560 km. Dit ontspring tussen Breyten en Bethhal, Mpumalanga, sluit by die Limpoporivier in Mosambiek aan en mond uit in die Indiese Oseaan. Die Letabarivier is sy grootste sytak. Dit dien as ‘n ekologiese grens in die Wildtuin, ‘n natuurlike skeidslyn vir plantegroei – suid word gekanmerk deur doring-savanna en noord digte, grasryke mopanieveld.

Vanjaar het die rivier teen Junie nog besonder baie water gehad. Die grondpaaie aan die oostekant van die H1-5 was nog gesluit agv die vloede in die somer.

Letaba was vir besoekers gesluit. Oppad Phalaborwa toe kon ons darem iets in die winkel koop. Vanjaar was die Sabledam, naby Phalaborwa tot teen die bome vol water. Dit was nogal ‘n gesig wat mens nie elke jaar sien nie.

Laat 'n boodskap