In die Voetspore van Paul Kruger

Leydsdorp

Tussen Gravelotte, Letsitele en Rubbervale (53 km suidoos van Tzaneen) op die grondpaaie vind ons die lank vergete dorpie – ryk aan geskiedenis.

130 jaar gelede was die spookdorpie ‘n besige plek – goud is in die Murchisonberge ontdek en dit moes gedelf word. 1888 is die Selati Goudvelde gestig en kort daarna ontstaan Leydsdorp, vernoem na Willem Johannes Leyds, staatssekretaris van die ZAR. Teen 1890 het honderde gouddelwers hulle daarheen gehaas. Die dorp het gegroei met myners in die dag en skelms in die nag. Mica Bill, Paraffin Joe en Brandy Smith was bekende name hier.

Paul Kruger, President van die ZAR het so dikwels op die plase in die omgewing gejag dat hy vir hom op Leydsdorp langs die hotel ‘n huis gebou het. Op een van die jagtogte moes oom Paul dringend dokumente teken maar volgens die bepalings moes dit in ‘n stad geteken word. Om die probleem op te los het die President Leysdorp op 1 Oktober 1890 as stad verklaar en kon hy sy dokumente teken.

Malaria, honger leeus en brutale kroeggevegte het veroorsaak dat die begrafplaas buite die dorp vinniger gegroei het as die dorp self. Vandag is dit toegegroei en kan eindlik nie eens gesien word nie.

Die ontdekking van die goudvelde op die Witwatersrand het veroorsaak dat die fortuinsoekers 20 jaar later sak en pak na die ryker goudvelde getrek het.

As jy op Google kyk is daar duidelik gemerkte strate maar vandag is net ‘n paar straatnaambordjies die stille getuienis daarvan.

Daar word ook vertel van ‘n tonnel van Oom Paul se huis se kombuis tot in die hotel kelder agter die kroegtoonbank.

Agter oom Paul se verwaarloosde huis is nog ‘n huis of twee met ‘n swembad en ‘n lapa -sekerlik eers later opgerig.

In 1990 het die laaste hotel-eienaar tou opgegooi. Die plek is gevandaliseer, maar gelukkig het ‘n paar boere die kroegtoonbank in bewaring gehou.

Vandag is daar maar min van Leysdorp oor. In 2015 het ‘n boer in die omgewing ingegryp en die hotel en die geboue rondom gerestoureer. Selfs die kroegtoonbank is terug op sy plek.

In die hotel se eetkamer kon ons vanaf die spyskaart vir ons baie lekker kos bestel en onder toesig van ‘n rooikat en ‘n bosvark ontbyt eet. In die snoeker kamer is nog ander opgestopte diere en ander besienswaardighede. Die ou gordyne lyk of dit sal breek as jy daaraan raak.

Ongelukkig was daar niemand wat ons oor die plek se geskiedenis of gebeure kon vertel nie.

Daar is ook kamers om te oornag, maar soos met enige ou geboue of spookdorpe is daar mos altyd stories …. spookstories.

Leydsdorp se bekendste storie is van Sandy wat in 1892 oorlede is. Sy drinkebroers het vir hom uit dun plankies van bierkratte ‘n lamlendige kis aanmekaar getimmer. Terwyl goedkooparbeiders hom na die begrafplaas dra het hulle ‘n laaste paar doppe ter nagedagtenis op hulle vriend gedrink. Toe hulle uiteindelik by die kerkhof opdaag was Sandy nie daar nie. Oppad terug het hulle hom langs die pad opgetel en toe maar weer saam terug na die kroeg gedra. By die kroeg aangekom was hulle weer dors en moeg en moes weer iets drink. So haal die donker met muskiete en leeus hulle in en moes hulle maar vir Sandy oornag in die koue kelder onder die kroeg bêre.

Die eindlike doel van die kelder was om die kos- en drankvoorrade van die hotel in die koel omgewing vars te hou. As die dorp se lykshuis vol was is hier dikwels ook lyke geberg.

Daar word ook beweer dat die babatjie wat soms hier huil Doris, die eerste eienaar van die hotel, Dicky Dickenson, se baba was. Sy is ook hier oorlede.

Die Selati-spoorlyn het Leydsdorp byna gered, maar ongelukkig te laat gekom.

Selati-spoorlyn

In die 1890’s is die spoorlyn beplan om die goudvelde van die noordoostelike Transvaal , insluitend die gebied om Leysdorp, met die hoofspoorlyn by Komatiepoort en Delagoabaai (vandag Maputo) te verbind. Die doel was om mense, voorrade en goud makliker na en van die Selati-goudvelde te vervoer. (Salati was die vroulike leier van die Tubela stam wat in die bosse om die Murchison berg woonagtig was.)

Terwyl Leydsdorp en die omliggende goudvelde floreer het die regering van die ZAR geglo dat die spoorlyn die streek se ekonomie sou versterk. ‘n Konsessie om die spoorlyn te bou is aan die Franse Entrepreneur Eugene Oppenheim en sy ouer broer, Robert toegeken.

Die bouwerk wat in 1892 begin het is reeds in 1895 gestop en 120 myl spoorlyn het sonder om sy beoogde doel te bereik in die veld geeindig. Die Selati-spoorlyn het berug geword as die grootste finansiele skandaal in die geskiedenis van die ZAR. Omkopery, finansiele wanbestuur, bedrog en later het dit ook die lig gekom dat dit gebruik is om beleggersgeld te maak.

Die Oppenheimbroers, Eugene en Robert, en hulle prokureur, Henri Warnant is deur ‘n Belgiese hof tot 3 jaar tronkstraf gevonnis.

Teen die tyd dat die kwessie opgelos is was Leydsdorp se glorie verby – die Witwatersrand se goudvelde het baie meer winsgewind geword en fortuinsoekers het daarheen gehaas. Toe die spoorlyn jare later herlei en voltooi is, het dit Leydsdorp met 11 km gemis, terwyl Gravelotte die spoorwegsentrum geword het.

Die Selati-spoorlyn is vandag belangrik omdat dit ‘n verhaal van ambisie, goudkoors, politieke intrige en finansiele skandale is, maar ook deel vorm van die Spoorweg geskiedenis in Suid-Afrika.

In my artikel oor die Kruger Nationale Park sal ek meer van die berigte spoorlyn vertel.

Die Groot Kremetart.

Op die R71 tussen Gravelotte en Leysdorp staan die grootste Kremetart in die omgewing en die tweede grootste in Suid-Afrika. Sy omtrek is 19,67 meter – hy is 26 meter hoog. Die boom is om en by 2 000 jaar oud en groei net 1 cm elke jaar. Sy takke sprei nie meer wyer uit nie maw hy groei nou nog net in hoogte. Blykbaar was die boom tydens die goudstormloop nie kleiner as nou nie.

Daar is ‘n hout leer teen die stam waarmee jy kan opklim om in die gat in die stam in te kyk. Hulle vertel dat Paul Kruger voordat sy huis in Leydsdorp gebou was tydens sy jaagtogte in die gat oornag het. Om hom teen roofdiere te beskerm sou hy die opening met takke toegemaak het. (Ek wonder wat het hy gedoen as dit gereen het, want nou is daar ‘n hele dam water in.)

Die inskrywing op die stam is tydens Koningin Elizabeth van Brittanje se jag ekspidisie in Suid-Afrika gemaak. Volgens oorlewering word daar vertel dat sy die boom besoek het en kom moontlik ook daar oornag het. Maar ek kon geen bevestiging in koerantberigte of selfs op haar toerprogram daarvoor kry nie.

Die Kremetart is ‘n vetplant daarom bevat dit baie water. Sy blomme gaan in die nag oop en word deur vlermuise en nagapies bestuif.

Lewer kommentaar