Hartenbos ATKV

2018 tot 2026

Anders kan ons dit nie stel nie.

Dis nie net n vakansie of n kamp nie, dis n totale ervaring. Dis iets wat mens beleef as jy met jou trekvoertuig, meestal n bakkie, en karavaan hier intrek. Dis in der waarheid dat die rooitapyt vir jou uitgerol word. Verwelkomings van ooral oor. Selfs die span wat kom opslaan is so dankbaar dat jy gearriveer het …….. dit beteken n paar rand in die sak.
Vinnig word jou ryhuis reggeskuif en waterpas gesit, dan word die grondseile oopgegooi en vasgekap. Daarna volg die tent se pype, die toue en die penne. Spoedig staan jou tent en sommer nog stewig vasgekap ook. Nou nog die silwerseil oor die tent om die son weg te keer en laaste die stormnet en -bande. Die wind speel nie met n tent in Hartenbos nie.
Deurentyd is daar kennisse wat kom groet en verwelkom. Die kamp op Hartenbos saam met die pensioenarisse is n jaarlikse reünie. Soos die tyd verloop vertel ons mekaar van die beste “ontbytspecials”. Watter plek se vis is die varste en Hartenbos Spar se olifantpoot wat so groot is dat ons dit moet deel.

Met Mosselbaai om die draai is die rondkuier moontlikhede net nog groter. Die hawe met al die bederfplekke, retaurante en oudhede winkels, die posboom en die geskiedkundige plekke. Ons kom nie by alles uit nie, want ons is mos by die see en ons moet daar ook tyd spandeer. Gelukkig, as ons gespaar bly, kom ons volgende jaar weer. Daar moet altyd nog iets wees wat ons wil doen of moet sien.


En dan natuurlik die belangrikste onderwerp, die bespreking vir volgende jaar. Wanneer het jy gebel, hoe lank moes jy vashou voor jy gehelp is en o wee!!! waar kon jy plek kry? Of was die heel beste plekke reeds gevat en jy is nou maar tevrede met wat jy gekry het? 

2026

Die nuwe Ou Meul, buite Riversdal het nou oopgemaak. Daar is nou lekker groot parkeerplek en as ons oppad ‘n lekker ontbyt eet kan ons sommer begin opslaan as ons in Hartenbos kom. Jy kan ook vir jou ‘n span bespreek om te kom help – maar ons doen dit nog self.

Vanjaar is ons weer bederf met ‘n plek in D-blok, sommer lekker naby die see, maar ook sommer naby die winkels. Op elke staanplek is nou ‘n lekker geplaveide blad waarop jy jou tent kan opslaan. Ongelukkig is daar nou maar min gras oor. As die wind waai is alles toe onder die sand, maar my man maak ‘n plan. Ons gooi die kaal sandkolle met grondseile toe. Nou lyk dit sommer soos mooi groen gras om ons tent.

Wat is tog nou lekkerder as om vroeg oggend jou koffie en beskuit by die see op jou “stoep” te geniet?

Die D-blok by Hartenbos ATKV is vir ons ideaal omdat die winkelsentrum binne loopafstand is. Daar is restaurante, die Pick ‘n Pay, ‘n wassery, waterwinkel, haarkappers en nog baie meer. Al die lekker dinge wat ons nie by ons tuisdorp in die Klein Karoo nie het nie.

Vanjaar beproef ons OB se Sushi. Jy mag dalk dink jy gaan honger uitstap, maar moet die ryshappies nie onderskat nie.

By die Spar, bietjie verder af in die straat koop ons hierdie lang pers druiwe, glo my dis suikersoet. En terwyl jy nou by Spar is kan jy net sowel die “Olifantpoot” eet – dis ‘n reuse gevulde pannekoek, teveel vir een persoon. Ons deel en dan is dit ook nog baie om te verorber.

En uit ons tuin bring ons ‘n goeie klompie tamaties (soos hulle ryp word verwerk ek dit en vries dit om later te gebruik), pampoene en marankas saam. Teen die tyd wat ons van die huis af ry is die perskes ook ryp en vat ons genoeg om met ons kampvriende te deel.

Natuurlik ry my man nooit by die “Pannekoek Tannie” se waentjie verby nie. Hy glo dis die lekkerste wat jy kan kry.

Ons maak ook ‘n draai by die mark wat om die beurt, elke tweede Saterdag by ATKV Joubertpark, Hartenbos of by Grootbrak is. Dis veral die pap en kaiings wat baie gewild is. Hier is plantjies, klere, ou geroeste skottels, potte en bakke en nog baie ander goed te koop.

By Grootbrak se Waterfront het nou ook ‘n paar lekker eetplekkies oopgemaak. Ons het by Melksnor lekker melkskommels gedrink.

Nog ‘n interessante plek wat ons vanjaar saam met dierbare vriende ontdek het, is die Kontreipadstal ander kant George op die Wildernispad. Hulle pap met eiers en sous is ‘n wenner. Vars gebakte brood maak elke bord kos spesiaal. Hier naby is ook ‘n lekker groot mark waar ons nog ‘n draai wil maak. (Dit was ons laaste kuier saam met tannie Reinette)

Die son, wolke, en see hou ons soms ure besig. Min dat ‘n mens ‘n reënboog oor die see sien. Vanjaar het ons die grootste skool dolfyne ooit gesien verby swem. Almal het daarvan gepraat. Soms sien ons ook haaie en dan natuurlik die robbe.

Selfs die wandelpad langs die see is vir ons ‘n groot plesier. Hier ontmoet ons dikwels goeie geselskap of jy loop ou vriende raak. Die feit dat jy dalk langs mekaar gekamp het, maak jou ou vriende.

Ons besluit om Fremersheim vir vriende wat nog nie daar was nie, te gaan wys. Dit gee vir ons ook geleentheid om sien of daar nuwee skilderye teen die huise se mure geverf is.

2025

Die geluk het ons getref en ons is terug in D Blok tussen die bekendes en vriende. Tog is daar altyd geleentheid om nuwe vriende te maak.

2025 was ‘n rustige stil jaar. Ons kuier, bak pannekoek, gaan soek vars vis om te braai of te bak by “Catch a lot”, drink by Klein Elvis Brew – teen die see saam met vriende koffie – daar is geen ledige tyd as jy by Hartenbos kamp nie.

Met laagwater is daar lekker poele tussen die rotse. As die son brand gaan lê ons daar. Ons noem dit “pensioenarispoele.”

Miskien klink dit onmoontlik maar daar is steeds nog nuwe plekke om te verken. Ons hoor van heerlike skons, room en aarbeie by die Redberry farm naby die George-lughawe. Ons moet gaan kyk waaroor almal praat.

Die tuine is pragtig en die kos is heerlik. Daar is binne of buite onder die bome of sambrele plek om te sit. Die Deli het heerlike gedroogte, ingelegte, gevriesde of vars vrugte.

Kinders is ook hier welkom. Daar is diere en ruim speelplek en ook ‘n treintjie om op te ry.

Ons het toe nog nie skons met aarbeie en room geeet nie – ons sal weer moet gaan.

Die mosaiek by die tonnel was tydens die vorige besoek nog nie klaar nie. Ons ry weer Pinnacle Point toe om die finale produk van die groot kunswerk te gaan bewonder. Dis voltooi en slaan jou asem weg. Wat ‘n groot kunswerk is hier gedoen?

Delfinos by die punt is altyd vir ons ‘n lekker plek om tyd te spandeer. Die kos, die see, die mense en hulle bedrywe verbaas ons altyd.

Die man wat op die strand beelde met sand bou vra geld vir Bybelverspreiding.

Om die Afrikaanse name van Mosselbaai se besighede te aanskou is vir my groot pret. Daar is nog verskeie ander. Ek sal nog bymekaar maak.

2024

Vanjaar is ons sommer vroeg gepak en gehak …. Hartenbos wag .

Ons kon net in E Blok teen die muur ‘n staanplekkie kry. Dis nogal besig teen die Hartenbos-wandelpad. Dit stop, groet en kuier. Ons het ‘n stryd met die molle wat hope onder ons grondseil uitdruk. My man se pogings om hulle te verdryf lok baie reaksie uit.

Die staanplekke is maar klein en naby mekaar. Die enigste plek vir ‘n vuurtjie is teen die muur. Al is ‘n Gurnard (Arm-mans-kabeljou) ook die enigste om te braai, maar braai sal ons braai. Dan sit ons sommer ‘n knoffelsampioen by.

Vanjaar doen ons moeite om by Pinnacle Point se Mosaic tonnel uit te kom. Dis kunswerk uit ‘n ander wêreld wat ‘n besoek verdien. Dit beeld Mosselbaai se geskiedenis, seelewe en ryk erfenis uit. Die tonnel loop vanaf die golfklub na Edenbaaistrand.

Ons gaan eet ontbyt by Eight Bells Mountain Inn, Ruiterbos net voor die Robertsonpas begin.

‘n Ware lushof, die tuine is mooi uitgelê en die plante groei weelig. Die bome is groot en oud. Hier raak mens stil en luister na die voëls in die groot bome. Eindlik moet mens tyd maak om hier oor te slaap.

Die biljardkamer se voorste muur, vloer en plafon is nog die oorspronklike – ‘n museum met al die oudhede wat in gebruik was.

2023

Vanjaar moet ons tevrede wees om bietjie dieper in D blok te staan. Die voordeel is – nader aan die badkamer.

Vanjaar maak ons by Mosselbaai se hawe ‘n draai, ongelukkig op ‘n Maandag. Alles is toe en doodstil. Ons kan darem ‘n paar foto’s neem. Delfino’s by die punt kom weer tot ons redding.

Soms lok die berge met sy passe ons weg van die see. Daar is ‘n verskeidenheid passe in die berge tussen George en Oudtshoorn. Om nie eens van Knysna en verder met die Tuinroete aan te praat nie.

In Uniondale maak sommer by die Boerefort op die berg ‘n draai. Die pad is maar skurf maar die uitsig pragtig.

Ons het met die Outeniquepas na die Hopsvallei gery. By die Hop valleiplaasstal kon ons na die hopsplant kyk maar ook die produkte in uitsonderlike verpakkings sien. Dis eindlik die name van die produkte wat vir my baie beskrywend is. Die hopsplant word geoes en verwerk om vir die mens bruikbaar te wees.

2022

Friemersheim

Is ‘n sendingdorpie ‘n paar km van Grootbrak af.

George ou motorskou

Ou motors, trekkers en allerhande enjins van oor die hele land daag hier op. Die manne kyk en vra en gesels. Die dag is net te kort om alles te sien.

Later in Februarie kom die uitnodiging van Jakkalsvlei om Hanepootdruiwe te kom pluk. Dis n entjie se ry maar beslis die moeite werd.

2021

Die ATKV wandelpad is vol verrassings en is daar vir almal om te geniet. Dit draf en stap, party met kieries of selfs looprame, maar daar word beweeg.

Maar hy het sy hartseer ook. Dikwels word hier van geliefdes afskeid geneem. As word gestrooi of sommer net mooi bankies met gedenkplaatjies word vasgekap.

Delfinos, Mosselbaaipunt, is die beste vir ontbyt. As die weer reg is, is almal daar.

Hier sit mens net rustig en kyk wat om jou aangaan en die koffie smaak beslis lekkerder as op ander plekke.

Vanjaar besluit ons om ‘n Montagupas van George oor Herold tot by Uniondale en weer terug tot by Knysna. Ons maak ook by Karatara ‘n draai.

2020

Ons eerste jaar met die karavaan, met ‘n uitsig oor die see.

Toe ons op ‘n Vrydagmiddag hier stop waarsku almal: “Groot storm is oppad.” Ons maak ons karavaan mooi staan en wag. Daardie nag is hy daar. Ons laat later die dak sak. Dit reën en die wind ruk, twee dae en twee nagte sonder ophou. Ons drink tee en koffie, eet ‘n broodjie met koue vleis of gaan eet iewers …. in die weer kan ons nie kos maak nie.

Dit is rusweer. Ons slaap en lees en wag vir beter weer.

2018 en 2019 ontdek ons Hartenbos met die boswa.

Ons was maar eers versigtig, net vir ‘n week. Om in die bos met die boswa te kamp was al aan ons bekend, maar om by die see te kamp was ‘n nuwe uitdaging. Veral by Hartenbos kan die weer, wind en reën, nogal onplesierig raak. Die boswa bied maar min beskerming vir die omstandighede.

Die kamp en omgewing bied baie om te ontdek. En ons aanvaar die uitdaging.

Lewer kommentaar