



Anders kan ons dit nie stel nie.
Dis nie net n vakansie of n kamp nie, dis n totale ervaring. Dis iets wat mens beleef as jy met jou trekvoertuig, meesal n bakkie, en karavaan hier intrek. Dis in der waarheid dat die rooitapyt vir jou uitgerol word. Verwelkomings van ooral oor. Selfs die span wat kom opslaan is so dankbaar dat jy gearriveer het …….. dit beteken n paar rand in die sak.
Vinnig word jou ryhuis reggeskuif en waterpas gesit, dan word die grondseile oopgegooi en vasgekap. Daarna volg die tent se pype, die toue en die penne. Spoedig staan jou tent en sommer nog stewig vasgekap ook. Nou nog die silwerseil oor die tent om die son weg te keer en laaste die stormnet en -bande. Die wind speel nie met n tent in Hartenbos nie.
Deurentyd is daar kennisse wat kom groet en verwelkom. Die kamp op Hartenbos saam met die pensioenarisse is n jaarlikse reünie. Soos die tyd verloop vertel ons mekaar van die beste “ontbytspecials”. Watter plek se vis is die varste en Hartenbos Spar se olifantpoot wat so groot is dat ons dit moet deel.
Later in Februarie kom die uitnodiging van Jakkalsvlei om Hanepootdruiwe te kom pluk. Dis n entjie se ry maar beslis die moeite werd.



George se ou-motorskou word ook die tyd gehou en heel wat gaan ook daar heen.


Met Mosselbaai om die draai is die rondkuier moontlikhede net nog groter. Die hawe met al die bederfplekke, retaurante en oudhede winkels, die posboom en die geskiedkundige plekke. Ons kom nie by alles uit nie, want ons is mos by die see en ons moet daar ook tyd spandeer. Gelukkig, as ons gespaar bly, kom ons volgende jaar weer. Daar moet altyd nog iets wees wat ons wil doen of moet sien.






Soms lok die berge met sy passe ons weg van die see. Daar is ‘n verskeidenheid passe in die berge tussen George en Oudtshoorn. Om nie eens van Knysna en verder met die Tuinroete aan te praat nie.
Ons het met die Outeniquepas na die Hopsvallei gery. By die Hop valleiplaasstal kon ons na die hopsplant kyk maar ook die produkte in uitsonderlike verpakkings sien. Dis eindlik die name van die produkte wat vir my baie beskrywend is. Die hopsplant word geoes en verwerk om vir die mens bruikbaar te wees.


En dan natuurlik die belangrikste onderwerp, die bespreking vir volgende jaar. Wanneer het jy gebel, hoe lank moes jy vashou voor jy gehelp is en o wee!!! waar kon jy plek kry? Of was die heel beste plekke reeds gevat en jy is nou maar tevrede met wat jy gekry het?