George-ou motorskou 2022

Vanjaar was die 25ste jaar herdenking van die skou. Motors uit elke uithoek van die land het hier by mekaar gekom. Die skou terrein is met 10 000 vierkante meter vergroot om die ongeveer 2 000 enjins te huisves. Die totaal van die skougronde was 65 000 vierkante meter.

Tydgleuwe vir besoekers is ingedeel om soveel moontlik besoekers te akkommodeer. Ongelukkig het ons nie daarvan geweet nie en kon ipv 8 tot 11, het ons eers 9 uur ingegaan en moes 11 uur uit wees.

Die drie belangrikste komponente was die ou motors, die trekkers en militere voertuie en dan ook die “hot rods” en moderne modelle wat deur 15 verskillende handelaars vertoon is.

Vroeg Saterdagoggend staan ons langs die pad en wag vir ons geleentheid, familie om ons te kom oplaai vir die jaarlikse motorskou in George. Ons vorm deel van lang toue, eers vir die parkeerterrein en dan weer om by die skou in te kom. Uiteindelik is ons in en kan die wonder van ou motors aanskou. Eindlik is dit nou nie my eerste belangstelling nie. ‘n Motor is mos maar ‘n motor, ‘n witte, ‘n bloue of watter kleur ook al. Nog ‘n probleem vir my is die feit dat ek in die suide van Namibie groot geword het. Daar was nie paaie vir al daardie fraai voertuie nie. Dis eers toe ons by die bakkies kom dat die dinge vir my begin sin maak. O ja en natuurlik die Willys Jeep uit die Tweede Wereld oorlog. Kyk dit was nou na donkies en perde ‘n handige voertuigie in die rooi duine van die Kalahari.

Ons laat die manne ‘n eie pad loop. Hulle staan te lank by een en daar is duisende. Ons verstom ons aan die lang slap waens, die kleintjies wat skaars groter as ‘n motorfiets is, die trekkers en dan natuurlik die motorfietse ook. Die ontwerpers het alreeds in daardie tyd styl en ellegansie gehad. Wat ons egter verstom is die besondere sorg waarmee die ou voertuie gerestoureer en op gepas word. Elkeen is in sy eie reg uniek.

Die manne daarinteen vra uit oor die perdekrag en die spoed. Brandstofverbruik was toe nie ‘n faktor nie. Dit het toe nog nie prys gehad nie. Hulle geniet dit veral om met die eienaars van die voertuie te gesels en die geskiedenis van die besondere voertuig te hoor.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.