ONTBYT
Om ‘n dag goed te begin is ‘n goeie ontbyt nodig. Veral as jy afhanklik is van kroniese medikasie.
Ons het ontbyte wat vinnig gemaak en geeet kan word.
- Wheat bix, Muesli, Rice Krispies, enige kits pap waarvan jy hou is reg.
- Warm of koue melk. Ek sit graag ongegeurde jogurt en heuning oor.
- Beskuit saam met koffie bly ‘n wenner. As ons later ‘n groot ontbyt gaan eet begin ons die dag hiermee.
- Koue braaivleis en braaibroodjie van die vorige aand.
- Koue mieliepap. Ons gooi net warm melk oor.
Warm ontbyte se voorbereiding neem langer en dit maak ons as ons tyd het en dit rustig kan doen. Daar is dan ook meer skottelgoed betrokke by.
- Die tradisionele gebakte of roer eiers met spek, ‘n worsie en brood.
- Natuurlik bly mieliepap met gegeurde maalvleis of sous en wors ook ‘n wenner.
- Sonder dat my ma dit geweet het, het sy ‘n fritata vir ons gemaak. Sny braaiveis of enige oorskiet vleis repies, braai dit saam met ‘n ui en ‘n soetrissie (groen, rooi of geel). Klits ‘n paar eiers en gooi oor die gebraaide vleis. Bak dit soos ‘n omelet.

Vinnige groter etes:
Ons hoof etes bestaan gewoonlik uit ‘n lekker vleis gereg, gewoonlik braaivleis, styselgereg en groente, slaai of warm groente. Ek sorg ook altyd dat daar bestandele beskikbaar is vir vinnige etes wat op die gasstoof gemaak kan word. Soms laat die weer dit nie toe dat daar ‘n vuur gemaak kan word nie. Of as ons laat by ons kampplek aankom en nog moet opslaan, wil ons nie sukkel nie. Ek berei vooraf Kerrievleis en Bolanaise sous voor om gevries te hou. Ons kook dan net rys of spaghetti en vinnig het ons kos op die tafel. Strogannoff is ook ‘n gereg wat maklik en vinnig voorberei. Ons het ook al deeg gekoop, lekker vetkoeke gebak om saam die klaar gaar vleis te eet. (Ons is vleiseters.)
Ons eet eerder vars groente, daarom beperk ons blikkies ingelegte groente tot die minimum.
Ek pak die groente in ‘n kartondoos tussen koerantpapier. Die papier absorbeer die vog en hou jou groente lekker koel. So hou dit selfs langer as in jou yskas. Ons hou die spasie in ons yskas vir botter, kaas en ander kos wat teen laer temperature gehou moet word.
Groentes wat langer hou is:
Artappels: Daar is ‘n verskeidenheid geregte wat met vars artappels gemaak kan word. Van slaai, gekookte artappels of ‘n vinnige gereg met room en kaas.
Butternutpampoene: Skil en in blokkies gesny saam met suiker en ‘n stukkie botter in foelie op die kole gebak.
Skorsies: Kook in water tot hulle sag is. Skep die pitte uit, skep ‘n lepel sweet corn in en siedaar, iets anders op die bord.
Patats: Draai dit in foelie toe en bak dit in die kole. Sit dit reeds eenkant as jy die vuur opsteek.
Wortels: Gerasper vir slaai. Of kook dit ‘n rukkie saam met artappelblokkies en water. Sit dit saam met uie, botter, sout en peper in foelie op die kole vir ‘n gebakte groente pakkie.
Uie: Wie maak nou kos sonder uie?
Tamaties: Slaai of braaibroodjies. Vir sous saam met die pap gebruik ek Miami se Boerie Relish. Ek braai ‘n ui en gooi die blikkie “Sweet tamato met Garlic” by. Kook dit ‘n rukkie totdat jou sous lekker warm is. Ek gooi dit wat oorbly in ‘n botteltjie, hou dit in die yskas vir later.

Knoffel: Hou ook lekker lank.
Pak in die Yskas:
Kaas, botter, melk in ‘n houer, (kartonnetjies skuur gaatjies in en dan lek die melk uit) Yogurt
Koeldrank, vir plekke waar nie koue koeldrank beskikbaar is nie.
Vrieskas: Hier hang dit maar af van die spasie in jou vrieskas.
Vleis: Tjops, steak, hoenderporsies, wors. Deel op in porsies, genoeg vir 1 ete.
Groente: Ertjies, mielies, gemengde groente.
Gaar rys, gaar stampmielies.
Vinnige Resepte:
Wilma se stampmielies
500 ml gaar stampmielie (of meer) 10 ml olie
250 gr spek, gekap 250 gr sampioene
125 ml Mayonaise 250 ml room
1 tot 2 uie 1 groot greenpepper (rooi vir kleur)
250 ml gerasperde kaas Sout en peper na smaak
Bietjie paprika
1. Braai uie, spek en sampioene in olie tot ligbruin.
2. Meng mayonaise, room en voeg kaas by.
3. Voeg mielies, spek en sampioene by en geur met speserye en roer goed deur.
4. Skep mengsel in bak en bak tot ligbruin bo op.
Of laat die pot – met sy deksel op – vir ongeveer ‘n halfuur langs ‘n louwarm vuur staan. (of sonder die deksel in die oond van 140 grade)
NB. Maak soos volg om mielies vinnig te kook sonder om dit oornag te laat week.
500 gr gedroogte mielies lewer ongeveer 8 k gekookte mielies. Bedek die mielies met water en bring tot kookpunt. Kook die mielies vir 5 min, verwyder van hitte en laat afkoel. Bring die pot na ‘n uur weer tot kookpunt en laat die mielies dan vir 90 min prut of totdat dit sag gekook is. Ek kook die stampmielies by die huis, deel dit in porsies groot genoeg vir die gereg en vries dit.