GRENSPOSTE:
Die 3 grensposte bring jou op goeie teerpaaie in Namibië
- Vanaf die suide gaan jy van die Kaapse kant af met die N7 by Noordoewer /Vioolsdrif oor die grens.
- Of van Upington af gaan jy by Nakop of Ariamsvlei oor die grens. (Die twee paaie sluit by Grunau by mekaar aan. Dit is die B1 wat ‘n baie mooi geteerde pad is, miskien bietjie smal op plekke.)
- Deur Botswana gaan jy met die Trans-Kalahari-grootpad by Buitepos oor die grens. Dan is jy reeds by Gobabis en ry wes na Windhoek.
Daar is verskeie kleiner grensposte maar dit is grondpaaie en soms nie goed in stand gehou nie. (Ek sal later oor die skryf waar ek al deur gegaan het.)

DORPE EN KAMPE OP DIE B1:
GRUNAU:
- Namgate Gasteplaas en slaghuis: 5 km voor Granau aan Noordoewer se kant is ‘n “container” langs die pad. Stop gerus daar vir die lekkerste springbok biltong, droë wors en ook gevriesde wors en vleis.
- By vulstasie is ‘n kiosk met lekker wegneem etes, veral die pasteie is baie gewild.
- Agter die vulstasie is daar ook oornagplekke.
Tussen Grunau en Keetmanshoop is daar verskeie oornag plekke.
- Die Withuis:
- Trupen Garden is 9 km suid Keetmanshoop
- Die Kokerboomwoud is weer ‘n paar km Noord-oos van Keetmanhoop. Die kampterrein is naby die kokerboomwoud. As jy hier oorslaap maak tyd om laat middag of met sonsopkoms foto’s te gaan neem. Daar is ook mak jagluiperds wat gevoer word. En die “Gaintsplayground” is net om die draai van daar.


B4 van Keetmanshoop na Luderitz:
- ‘n Pragtige teerpad wat rustig aangepak moet word. Daar is net teveel om te sien en te ervaar om haastig te wees.
- Nautedam: Op die C12, 53 km suid van Keetmanhoop in die Löwenrivier, Namibië se derde grootste dam. Dis ‘n grondpad, wat later by die M28 aansluit wat na Hobas by die Visrivier canyon, gaan.





Maak seker jy kry dadels wat hier gekweek word.
- Seeheim: (45 km wes van Keetmanhoop met die B4. En 113 km van Hobas, Visriviercanyon se uitkykpunt) Seeheim is ‘n treinstasie met ‘n baie ryk geskiedenis en ‘n hotel. Die grondpad, M 28, na Hobas is maar ‘n skurwe grondpad, ‘n 4×4 is nie nodig nie maar tog is die regte bande met ‘n redelike grondvrye hoogte nodig. Op die M28 gaan jy by Holoog en Canyon Roadhouse verby. Die Canyon Roadhouse is deel van die Gondwana oorde. Dit is ‘n stop werd en veral die spyskaart verras ‘n mens.




- Hobas is ‘n NWR kampterein die naaste aan die Visriviercanyon se uitkykpynt. Laat middag, net voor sononder is die beste tyd vir foto’s.




- Alte Kalkofen Lodge by Goageb is 100 km op die B4 van Keetmanshoop af. Is ook ‘n heerlike oornagplek met ‘n interessante geskiedenis. Veral die kampplek is ‘n “moet stop”.





Van hier draai ‘n goeie grondpad uit (die Witputspad) wat aan die weste van die Visriviercanyon in die Konkieprivier loop en naby Rosh Pina by die teerpad aansluit. (Die Visrivier Lodge is op pad geleë.)






- Aus: Aus is ‘n klein dorpie met ‘n vulstasie, hotel en ander oornagplekke. (Van hier is die teerpad suid via Rosh Pina na Oranjemund en Sendelingsdrift. Die grondpad van Noordoewer oor Ausenkehr na Rosh Pina, sluit by die pad aan.)
In die dorp is ook ‘n klein kampterrein as jy dalk laat is vir ‘n plek by Klein Aus Vista.
- Klein Aus Vista of Eagel’s nest: is ‘n gewilde oornag plek met huisies en kampplekke met netjiese ablusie. Hier het ons al bitter koud gekry. Dis Namibië se plek van uiterstes. Of bitter warm of bitter koud, selfs sneeu of ysreën het ons al hier beleef. As jy hier slaap sorg jy dat jy genoeg komberse en warmsjokelade het. Die badkamers is nogal ver van die staanplekke af, veral as dit reën en koud is.



- Garub treinstasie: Van hier moet jy op die uitkyk wees vir die woestynperde. Soms lê hulle selfs op warm pad. Stop gerus by die drink plekke langs die pad, moenie haastig wees nie. Dalk kom hulle af water toe. Doen moeite om hulle te sien, die belonging is groot.



- Grasplatz: 24 km voor Luderitz. Van hieraf kan daar sandduine oor die pad gewaai wees. Vir my voel dit of mens onder die see begin inry. Sand met swart rotse wat uitsteek.
- Kolmanskop: Die spookdorp half toe gewaai. Permitte vir ‘n begeleide toer kan in Luderitz gekry word. Dis Diamandspergebiet, jy word nie sonder toesig hier toegelaat nie. Dalk het die wind nog ‘n groot blinke oop gewaai. Kyk ook uit vir ‘n toer na Elizabeth baai, Pomona en Bogenfels.



- Luderitz: Shark Island is die kampterrein hier. Ry maar eers deur en kyk of jy gemaklik is om daar te kamp. Daar is ook baie interessante en geskiedkundige plekke wat gereeld deur die Duitsers besoek word.





Daar was altyd ‘n vulstasie of daar brandstof is moet jy maar uitvind.
Of die supermark nog bestaan, weet ek ook nie.
Daar is egter pragtige ou geboue en verskeie luukse verblyf met pragtige restaurant een heerlike seekosse.
Die bootrit na die Robeiland is ook gewild. Ek hoor daar word mossels op die boot bedien.
By Agatestrand kan jy woesteinrose optel.
Verder is daar verskei ander besienswaardighede.
Jy sal lank en baie kan vertel oor jou besoek aan Luderitz.
Tirasberge:
Vanaf die Keetmans Luderitz pad (B4) draai jy voor Aus Noord na Helmeringhausen (C18) toe en dan weer wes op die D707. Die lekker grondpad loop wes van die Tirasberge, maw op die rand van die Namib. Dis nou ‘n lekker agter pad. Jy het nie ‘n 4×4 voertuig nodig nie maar wel ‘n voertuig met die regte bande vir grondpaaie. Hy raak nogal erg sinkplaat en grof na Spes Bona en Betta se kant toe.
Op die pad het ons al groot troppe gemsbokke gekry. Veral as dit hier goed reën.






Dis op die D707 wat jy die twee lieflike kampe kry.
Koimasis is beslis een van die mooiste kampe in die geweste. ‘n Kamp wat mens kan aanbeveel.
Dit is nogal afgeleë en stil, maar netjies uit gelê tussen die rooi graniet rotse van die Tirasberge. Sommige staanplekke het hul eie ablusiegeriewe, ander maak weer van die netjiese gesamentlike geriewe gebruik. Hulle maak gebruik van sonpanele, maw die warmwater is beperk. Sorg maar dat jy vroeg daar is.
Hier kry jy geleentheid om jou sonpanele te toets – hier is nie krag nie.



Namtib Desert Lodge is in die Namtib Biophere reservaat geleë.
Die kampplek is op ‘n groot gelyk oppervlak met pragtige bome. Hier kies jy jou eie lekker boom uit. Die badkamers is mooi met warm water vanaf die “donkie” wat elke middag opgesteek word.
Hier is nie krag nie – die manne kan spog met hulle sonpanele.
Ons het veral die voëllewe daar geniet. Die woestyn korhane klink laat middag soos paddas.
Hier is lieflike stapplek, teen die berg op of in die kloof tot diep in die berg.
Mens kry hier geleentheid om af te pak, stil te word en die natuur te geniet. Of laat middag as die berg aan die ooste rooi verkleur kan jy die indrukwekkendste foto’s neem.
Die nagte is pikdonker en die sterre helder. Maak tyd om buite te sit.





