Op Tsumeb het die tyd nou aangestap tot 1 Junie.
Van hier kan ons met die C42 Grootfontein toe ry of met die M 75 oor Tsintsabis tot teen die Angolagrens by Nkurenkuru en dan teen die Kavangorivier tot by Rundu. Die pad oor Tsintsabis lyk vir ons die aantreklikste opsie. Die lieflike teerpad is in die 80’s gebou.
Dit sal vir ons die eerste keer wees om omgewing te verken. Van die vroegste jare af het die Boesmans hier gewoon. Die boere van Grootfonteinomgewing vertel dat hulle vroeër jare hier werkers gaan haal het. Maar as dit gereën het, het al daardie werkers die plase verlaat en na hulle huise terug gekeer, sommer oornag getrek.
Tsinsabis en omgewing, “die Driehoek van die dood” was vir baie jare die slagveld vir groot konflik wat met die “Bosoorlog” in 1982 beeindig is. Volgens Deon Lamprecht het “Operasies Carrot en Yahoo” in die kommersiële plaasgebied plaas geving. Generaal-majoor Roland de Vries, voormalige bevelvoerder van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep en voormalige adjunkhoof van die S.A. leer het die voorwoord van “Tannie Pompie se Oorlog in die Driehoek van die Dood” geskryf. Lees gerus die boek.
Deon Lamprecht beskryf dit in Tannie Pompie se oorlog soos volg: “Deur die eeue heen het die kopermyndorp (Tsumeb) op die rand van konflik geweifel en is soms met die bloedigste gevolge ingesleep: Ovambo teen San; Ovambo teen Duitser; Suid-Afrikaner teen Duitser …. en uiteindelik ook die Bosoorlog.”

Die interessante kaart kom ook uit “Tannie Pompie se oorlog” van Deon Lampprecht.
Malaria, met of sonder medikasie?
Ons beweeg nou in Malaria wêreld in, met of sonder medikasie is jou keuse. Die antimalariamiddels soos Mozitec of Malateq is peperduur en het baie newe effekte. Die mense wat weet raai jou af omdat malaria diagnoses makliker gemaak kan word as jy nie die middels gebruik nie. Die tyd wat ons daar was, was daar nie muskiete nie. Voorkomend het ons Peace full sleep gespuit. Tabard room is baie effektief maar ook ‘n lekker bevogtiger vir jou vel. Dit help beslis ook om na donker nie met kaal arms en bene buite te wees nie. Ons spuit ook ons slaapplek voor ons gaan slaap en hou die gaas voor die vensters en deur toe.
9. Simanya River Lodge teen die Angola grens.
Die pragtige lodge teen die Kavangorivier is die enigste kamp in die omgewing. Die teerpad loop tot voor die ingang van die lodge. Hulle pryse is goed gelaai maar dis beslis dit werd om ‘n nag of twee hier oor te staan. Hy is veral gewild onder die groepe wat van Angola af kom of by die naaste grenspos, Katwitwi by Angola in te gaan.





Ons staanplek onder skadunet en bome is geplavei. Hier is ons bederf met ons eie badkamer en opwas geriewe en ‘n geboude braaiplek. Mens kan nie die rivier sien nie, want die plante is baie ruig. Jy hoor egter die seekoeie in die rivier.
Van die kampterrein af is ‘n paadjie met ‘n hek na die rivier toe. Ons geniet hulle tuine en veral die katlagters in die bome.

Die restaurant het ‘n lieflike uitsig oor die rivier. Veral laat middag is die sonsondergang ‘n lus vir die oog. Ons bederf ons ook met hulle heerlike etes – mens raak mos moeg vir kosmaak en veral skottelgoed was. Bootritte op die rivier kan ook hier bespreek word. Daar is ook geleentheid om tiervis te vang.






Nkurenkuru is net 16 km (18 minute) van Simanya River Lodge af. Natuurlik moet ons daar ‘n draai gaan maak. Die winkels is goed ingerig – dis veral Choppies waarmee ons nou kennis maak. Die geur van hulle vars brood roep jou van ver af nader. Hulle pryse is goed. Dis regtig nie nodig om vragte kos saam te ry nie. Vars groente is maar skaars. Ons eet nie gewoonlik blikkies groente nie, maar hier trek ons dit maar nader.
Eindlik is dit die slaghuise wat ons hier na ons asems laat snak. Die vleis wat aan die bome hang noem hulle ‘n “windslaghuis”. Die ander een het weer klere in. (Hoop nie die vleis het die klere gedra nie. )
En die “runaways” in Choppies oortref ons verwagtinge.



Volgens Wikipidia is Nkurenkuru (beteken “die ou Plek” ) nou verbind met die geskiedenis van die Kwangali-volk, die westelike van die vyf koninkryke van die Kavango-volk. Nkurenkuru is in 1820 gestig en het in 1880 die tuiste van die konings onder Koning Mpande, geword. Dit is ‘n voormalige sendingstasie van die Finse Sendinggenootskap.
Tydens die Angolese Burgeroorlog (1975 tot 2002) het Suid-Afrikaanse weermag in Nkurenkuru ‘n basis gevestig. Ons het verskeie manne raak geloop wat as jong manne hier gestasioneer was.
Die statte met hulle hutte langs die pad is mooi netjies. Hier lê nie plastiese sakke of blikke nie. Beeswagters pas hulle bees of bokke op en ander verkoop weer hout. Die kinders loop langs die pad na hulle mooi skole. Ons het twee netjies gekleede onderwysers, swartbroeke, wit hemde en dasse by die lodge ontmoet. Hulle groet en vra hoe dit gaan. Praat Afrikaans maar die een vra in Ovambo hoe dit gaan. Tot groot vermaak vir die ander een stel ek myself voor. Hy help my toe mooi op die spoor.
Ons het baie lekker met die bestuurder en sy personeel gekuier. Hier voel mens sommer gou gou soos familie.
Van hier ry ons met die B10 teen die Kavangorivier tot by Rundu. Dis ‘n goeie teerpad, rustig- kyk maar uit vir diere en kinders op die pad. Ons geniet die 150 km met pragtige natuurtonele, bome en woongebiede. Almal is vriendelike en hulpvaardig. Ons ignoreer die kinder-ogies wat vir ons loer – mens moet hulle nie leer om te bedel nie. Koop eerder hout en betaal hulle daarvoor. Ons voel veilig om hier vir hout te stop.
10. Kaisosi River Lodge, Rundu.
Hakusembe River Lodge van die Gondwana-groep is 15 km wes van Rundu. Die Gondwana Lodges is baie goed toegerus en as jy ‘n lid is, eindlik heel bekostigbaar . Namibiërs en Suid-Afrikaners word bederf met goeie pryse. Ongelukkig is hulle kampeerplekke maar beperk en moet mens vroeg bespreek.
Ons wil eerder graag oos van Rundu wees en kry by Kaisosi River Lodge plek. Hier het elke staanplek sy eie stort, toilet en wasbak met warm water en ‘n braaiplek wat twee plekke van mekaar skei.







“Kaisosi” beteken die “plek waar ek wil bly” – en dit is ons ervaring hier.
Die kampplek is onder groot bome teen die rivier – al is daar moerasse, is daar ‘n ryk voëllewe. Ons het voor sonop en voor sononder voëls gehoor wat ons nooit gesien het nie. Niemand kon ons ook se watse voëls dit is nie, maar hulle het baie mooi gesing.





Kaisosi se gids op die boot is goed opgelei. Hy en sy assistent was baie hulpvaardig en goed ingelig. Maar wat vir ons besonders is, is dat hulle alles so maklik raak sien. Die voëls in die riete, gras of bome maar ook die krokedille en ander diere langs die water. Terwille van die weerkaatsing van die son op die water ry die bote net vroeg oggend of laat middag.
Verder oos op die rivier lê die drywende brug. Angolese en Namibiërs beweeg vrylik met hulle identiteitsdokumente oor die brug. Hulle kan tot een maand met hulle identiteitsdokument in die ander land bly. Die Angolese doen hulle inkopies in Rundu. Hulle kan selfs met voertuie oor die brug ry.





Ek het my verstom aan almal wat op die walle van die rivier sit en was – vreesloos saam die manne in die bruinpakke. Mens kan hulle skaars tussen die takke en blare sien.
Dan is daar natuurlik ook die ouens wat vir hulle naweek huisies op die wal oprig.



Rundu het teerstrate en mooi winkelsentrums, maar baie besig. Daar is alles waarsonder mens nie kan klaar kom nie. Gaan doen maar jou inkopies in die stiltyd. Die woongebiede is ongelooflik groot. Daar was blykbaar ‘n groot mark in die dorp, maar covid het dit ook tot ‘n einde gebring.

En oorkant die rivier is Angola.



Die Okavango -rivier (voorheen gespel Okovango of Okovanggo) staan in Botswana onder die naam bekend. In Angola is dit die Cubango en in Namibie die Kavango. Dit is die vierde langste rivierstelsel in Suider-Afrika. Hy ontspring op ‘n hoogte van 1 300 meter in die sanderige hooglande van Angola en vloei 1 600 km suidoos. Dit vorm die grens tussen Angola en Namibië, en vloei in Botswana in. Hier mond dit uit in die Okavango Delta of Okavango Alluviale Waaier, ‘n endoreiese bekken in die Kalahari. Met ander woorde dit mond glad nie in die see uit nie.


Van Rundu af ry ons 198 km suid van die rivier tot by Divundu waar jy die rivier kruis om in die Caprivi in te gaan.
Die Caprivi
Die Caprivi is die pypsteel van Namibie wat suid van Angola, noord van Botswana tot by Zambie en Zimbabwe in die ooste strek. Leo van Caprivi, ‘n Duitse kanselier het in 1890 ‘n groot rol gespeel toe Engeland die strook as deel van ‘n ruil ooreenkoms afgestaan het. Die Okovango-, Kwando- (Linyanti), Chobe- en Zambezi riviere omring die Caprivi.



In die Caprivi is agt Nationale parke:
- Mahango wildreservaat, suid van Divindu is deel van die groot Bwabwata Nationale Park.
- Popavalle natuurreservaat, Namibië se kleinste natuurpark, 25 vierkante km in die Kavangorivier.
- Bwabwata Nationale Park: die B8 tussen Divindu en Katima Mulilo loop deur die park. Hier word voorsiening gemaak vir plaaslike bevolking saam met natuurbewaring.
- Baffalo Core Area is 10 km oos van Divundu in die Bwabwata Nationale Park en die tuiste van ‘n groot verskeidenheid wild.
- Kwando/Susuwe Cor Area vorm ook deel van die Bwabwata Nationale Park, maar is wes van die Kwandorivier net voor Kongola. Met jou 4×4 kan jy by die “Horse shoe bend” vir die olifante gaan wag om water te kom drink.
- Muduma Nationale Park ( 737 vierkante km) is 35 km suid van Kongola. Die grootste deel van die park bestaan uit die Kwandorivier se vloedvlakte, grasvlaktes, rieteilande en oewerboslande. Dit is plat maar vir die los sand het jy ‘n 4×4 voertuig nodig. Hier betaal jy slegs parkfooie en kan dan gratis kamp opslaan. (Jy moet 100 % selfvoorsienend wees.)
- Nkasa Rupara Park of Mamili is Namibie se grootste beskermde vleiland. Die riete, lagoons en eilande is die tuiste van 1 000 buffels en ‘n deur gang van Botswana na Angola en Zambie vir die olifante. Die gebied is slegs vir 4×4 voertuie toeganklik.
- Die Chobe-rivier vorm die noordelike grens van die Chobe Nationale Park in Botswana. Die voëllewe, groot troppe olifante, buffels en wildsbokke is onbeskryflik.
11. Mukolo Kamp, Kongola.
Tot by Kongola, oor die Kwandorivier is vir ons net ‘n rustige dag se ry. (400 km, 4 ½ uur) Die Kwandorivier is hier meer ‘n vloedvlakte wat, as dit in Angola goed reën, vol stoot.
Hier val ons keuse op Mukolo Kamp net so 12 km suid van Kongola. Dis ook die kamp die naaste aan die Kwando Core Area wes van die Kwando rivier – wat ons graag wil besoek. Elke staanplek in die kamp het sy eie stort, wasbak en toilet en braai geriewe. Ons het ‘n heerlike afdakkie met ‘n opwasbak gehad. Hier is nie krag nie. Ongelukkig is ons plek in die bosse. Daar is kampplekke met mooi uitsig oor die vloedvlakte. Weereens is hier baie voëls. Die bosuil het ons elke aand vir ons kom sing.



Verder suid op die C49 is ook ‘n pragtige Gondwana Kamp, Namushasha River Lodge. Daar is net ‘n paar staanplekke teen die rivier onder lieflike groot bome – ongelukkig was ons bietjie laat vir ‘n plek. Daar het ons lekker rond geloop, tee gedrink en iets lekker geeet.




Verder af teen die rivier is verskeie ander kampe. Kyk gerus na hulle foto’s en kommentare voor jy ‘n keuse maak.
Die Kwando Core Area, wes van die rivier is slegs vir 4×4 voertuie toeganklik. Die sand is los en die spore diep uitgery, maar dis ‘n belewenis wat mens nie moet mis nie. Kyk uit vir Fort Doppies se reünes en ry tot by Horse Shoe, waar die olifante kom drink, maar moenie daar omdraai nie. Van hier af na Botswana is die meeste diere. Die dag wat ons daar was, was koud en die diere maar skaars.





Nambwa Boskamp is in die park maar kos ongelukkig ‘n arm en ‘n been.




Fort Doppies was ‘n afgeleë militere buitepos teen die Kwandorivier waar soldate opgelei is in bosoorlogtaktieke, spoorsny en oorlewingsvaardighede vir die bos-oorlog noord van die grens in Angola. Die kamp is so genoem omdat ‘n blouapie patroondoppies in die kamp gesteel het. Die soldate het ook ‘n leeuwelpie, Teddy of Terry groot gemaak. Hy het saam met hulle geswem, sokker gespeel en sommer bo-op hulle op die bed kom slaap.
Die kamp is gesluit toe Namibie in 1990 onafhanklikheid verkry het.


2002 het ons die bord van Camp Kwando afgeneem. Ek sal graag weer daar ‘n draai wil maak.
Van hier ry ons vir die verste punt oos wat ons vanjaar wil gaan, Katima Mulilu. Dis ‘n netjiese teerpad – kyk maar uit vir mense en diere. Twintig jaar terug het ons olifante op die pad gekry.



Van Kongola na Katima Mulilu kan jy met die B8 of met die C49 ry. Altwee is goeie teerpaaie. Die B8 is die kortste maar die C49 loop teen die Botswana grens deur die Muduma Nationale Park. Dis nog ‘n opsie wat ons vir ‘n volgende keer laat oorstaan het.
12. Namwi Island Campsite, Katima Mulilu.
Met die B8 deur Katima Mulilu kry jy die T-aansluiting voor die Zambizi-rivier – links met die M10 na Zambie en regs verder aan met die B8 na Ngoma Brug, Botswana grens. Op die pad is ‘n verskeidenheid blyplekke om van te kus en te keur. Te naby aan Katima Mulilu is oor naweke nogal raserig.


Die Zambezi Mubala Lodge en Kamp van Gondwana is weereens pragtig. (35 km van Katima Mulilu) Elke kampplek het sy eie ablusiegeriewe en mooi uitsig oor ‘n sytak van die Zambezi-rivier, amper ‘n moeras met biesies en grasse. Lyk ideaal vir olifant, seekoei en krokedil om te wei.

Die Gemeenskapskamp, Caprivi Mutoya Lodge is pragtig maar die kampplekke is in die bos sonder enige uitsig oor die rivier. (28 km van Katima Mulilu) Dit lyk nie vir ons lekker daar nie.



Ons slaan by Namwi Island lodge, (10 km uit Katima Mulilu) onder pragtige bome, teen die rivier tent op. Die Zambezi-rivier maak hier ook ‘n eiland met twee strome. Van hier sien ons die seekoeie onder die bome in die water lê. En die visarende wat hoog sit en roep. Of mukoro’s wat verby vaar opsoek na iets vir die volgende ete. Ja!!! hier is tiervis!





Elke staanplek het ‘n sementblad om op op te slaan, ‘n lekker gerieflike braaiplek, sement tafel met bankies, ‘n kragpunt en waterkraan. O ja en ‘n lekker lig as die donker kom. Daar is gesamentlike badkamers met genoeg storte met warm water, toilette en wasbakke. Hier het ons ook wasgoed laat was en stryk vir ‘n appel en ‘n ui. Onder die grasafdak kan jy etes bestel of ‘n koel lafenis geniet wat selfs in die winter hier welkom is. Die personeel en gaste is vriendelik en gou is ons sommer een groot familie wat mekaar groet en gesels oor ons reiservarings.



Orals is waarskuwingstekens vir krokodille, seekoeie en slange. Een nag het ‘n seekoei in die kamp kom wei. Ons het gelukkig net die spore in die sand gekry.
Hier is jy in die wildernis.
Ons het met Namwi se boot op ‘n besigtigingsrit op die rivier gery. Dit is ‘n ervaring wat ek ook beslis sal aanbeveel. Ons was so gelukkig om te kon kyk hoe die plaaslike slangvanger, Coert, 3 slange op die eiland hervestig. (Giftige slange wat verwyder word, word hier vrygelaat.) Niemand woon op die eiland nie en terwille van bewaring word daar nie mense toegelaat nie.
Om die atmosfeer hier te ervaar het ons besluit om langer te bly. Die rivier, bos, om die son te sien opkom en ondergaan met al die bos geluide was vir ons besonders. Die bosuil het elke aand in die bome by ons kom sit en roep.
Om net daar op die Zambezi-rivier se wal te slaap, kos te maak en ‘n paar dae te kon bly was ‘n onvergeetlike ervaring. Ons kon die mooiste broodjie bak terwyl die skemer oor ons sak. Vroegoggend terwyl die bos wakker geword het, het ons koffie gedrink en beskuit geeet.





Katima Mulilo het ook nie teleurgestel nie. Lekker breë strate met pragtige winkels, kos en klere – alles waarsonder ons nie kon klaar kom nie. Green Basket Cafe het gesorg vir ‘n heerlike vadersdagete, en lekker geselskap. En Choppies verkoop run-aways en vars brood.


Die Kremetarttoilet van Katimo Mulilo is ‘n moet sien, maar die storie agter die unieke verskynsel maak dit beslis meer uniek.


Voordat Majoor Lisle Frensch Watts Trollope in 1039 as landdros en inheemse kommisaris vir die Oostelike Caprivi – soos in daardie tyd genoem – aangestel is, was dit vir almal ‘n vry gebied. Dit was ‘n miernes van stropers, jagters en ivoorhandelaars. Om die gebied te administreer moes hy o a heksery hanteer het, maar soldate wat dronk of aan die slaap aan diens of weermagtoerusting verloor het en die verkenning van die streek het hom so besig gehou dat hy maar by min van sy primere pligte uitgekom het. Hy het die Oos-Caprivi-administrasie bestuur soos wat hy goed gedink het. Hy het ‘n span van die departement van Openbare werke gebruik om vir hom ‘n spoeltoilet in die hol kremetartboom langs sy huis te instaleer.
Hy was ‘n vrygesel en sy suster, Alice, het ‘n huis met hom gedeel en gehelp met onthaal van gaste.
Lawrence Green het ‘n kleurvolle verhaal in sy boek “Lord of the last frontier” oor Majoor LFW Trollope wat aan die buitewyke van Katima Mulilo begrawe is, geskryf.
Na 4 onvergeetlike nagte pak ons op. Ons besluit om weer met die B8 hoofpad terug na Divundu te ry. Weer ry ons rustig en geniet die natuur om ons. 20 jaar gelede het ‘n olifant ons op die pad gejaag. Iemand het ons vertel dat hulle ‘n luiperd gekry het.
Net na die Kavangorivier is Divundu, ons draai suid teen die rivier na ons volgende blyplek.

13. Rainbow River lodge, Divundu.
Weereens is hier ‘n verskeidenheid kampe om van te kies. Maar ons hou van uitsig oor die water, nie te ver van die hoofpad af nie, maar ook nie te naby aan die woongebied nie. Ons wil graag verken vir die toekoms, ons besoek ook ander kampe in die omgewing.
Ngepi Kamp, nader aan die Botswana grens is ‘n baie goeie opsie. Dis wild en teen die rivier. Sy swembad in die rivier met ‘n staalomheining maak hom uiters gewild. Sy restaurant bedien ook lekker etes. Sy badkamers is met riete toegemaak.


Shametu River Lodge het pragtige kamppeerplekke, elkeen met sy eie badkamer en kombuis, ongelukkig is dit in die bos en agter die chalets wat rivieruitsig het.
Popa Game Park se kampplekke was vroeër teen die water maar met die nuwe ontwikkeling is dit in die bos op die klipbanke. Daar staan jy in die son. Hulle chalets op die rivier is pragtig, dis ‘n goeie opsie. Ongelukkig is dit nie selfsorg nie. Ontbyt is by die prys ingesluit, maar vir die res moet jy self voorsiening maak.


Rainbow River Lodge, waar ons opslaan se terrein het regtig aandag nodig. Die kampplekke is skuins, die pad klipperig en moeilik begaanbaar. Ons was so gelukkig om ons eie badkamer, met ‘n sleutel te kry, lieflike grasdakke en mooi afwerking. Ons het ook ‘n lekker sementbraaiplek en ‘n waterkraan onder pragtige groot bome, gehad. (Om die braaiplek was die grond erg uitgespoel – op ons versoek het hulle dit met sand kom opvul.
Elke dag voor sononder het daar ‘n “Overlander” met ‘n groep langs ons gestop. Gelukkig kon hulle nie vinnig genoeg by die restaurant vir Wifi uitkom nie. Ons was net baie dankbaar dat ons nie met hulle ‘n badkamer gedeel het nie. Om eerlik te wees, ons het die persoon wat daar skoongemaak het, jammer gekry.
By die restaurant en ontvangsarea is ‘n swembad om in die warm weer af te koel.


Ons vriendelike bure van Windhoek se kleinkinders het sommer van die kant af lyn ingegooi en tiervis gevang. (Die kinders met die mukoro het haar genooi om op die mukoro by hulle te staan.)
Ek was darem so lus vir die tiervis, maar hy het besluit om hom terug te sit.



Popavalle natuurreservaat, Namibië se kleinste natuurpark (25 vierkante km) is net om die draai. Ons besluit om met hulle boot op die rivier te ry, het ons nie teleurgestel nie. Ons gids se kennis van die omgewing en die 400 voëlspesies, wat hier voorkom, was ongelooflik. Hy het die kleinlangtoon en die nagreier vir ons gewys – altwee blykbaar baie skaars.
Hy het so naby as moontlik aan die valle of stroomversnellings gestop en ons bederf met ‘n bord heerlike verversings. Die sand hier is brulsand …… ek het gedink daar is fout met my skoene.





Waar Theuns staan kon ons 20 jaar terug ons tentjie opslaan en bly sonder dat enige iets of iemand ons gepla het.


Langs die paaie is stalletjies waar die plaaslike mense houtbakke wat hulle self maak, verkoop. Ons het by die stalletjie vir ons dogter ‘n klein mukoro vir ‘n vrugtebak gekoop. Theuns het besluit hy moet voel hoe daardie plaaslik vervaardige stoel sit.

En so breek ons laaste sonsondergang in Caprivi aan. Dit was ‘n onvergeetlike ervaring, en ons sien beslis na die volgende besoek uit.


Van Divundu ry ons met die B8 deur Rundu na Grootfontein. Ons het die pad al gery maar alles is vir ons nuut. Die Makalaniepalms, die talle stalletjies met houtbakke en interessanthede, die diere en die mense. Hier gebruik hulle nog osse of donkies om hulle slees met hout of ander swaar goed, te vervoer. Die 399 km (4 en ‘n half uur) se ry tot by Roy’s restcamp gaan vir ons sommer vinnig verby. Daar was net een padblokkade wat ons opgehou het. Hulle het omtrent ons voertuig vir padwaardigheid bestudeer en ook ons Namibiese padpermit gevra. Dit moet jy altyd byderhand hou.
14. Roy’s restcamp, 60 km voor Grootfontein.
So baie het al vir ons van Roy’s vertel dat ons graag hier wou bly. Blykbaar is die kamp begin vir die doel soos sy naam is, ‘n Ruskamp of plek. Toeriste wat deur die Caprivi van Zambie, Botswana of Zambabwe en Angola af kom soek ‘n plek om te rus, wasgoed te was en alles reg te kry vir die langpad vorentoe of as hulle uit Namibie kom en die Caprivi wil verken. Die Otto’s het die behoefte raakgesien.





Ons het hier vir 2 dae afgepak, lekker in die skadu gesit en die dikdikkies, tarentale en fisante geniet. Laat middag het ons tot donker by die watergat gesit en vir die diere gewag. Sodra dit donker word gaan die sonpaneellig aan. Die skuiling by die watergat met bankies is sommer loopafstand van die kampterrein af. Voor sononder kom die voëls drink en later die koedoes en elande.
Die boom voor die oornagkamers is ‘n Aruboom, sekerlik al baie jare oud. Die bome is gemerk, ook ‘n lekker tydverdryf – om nuwe bome te leer ken.





Die groot kampterrein is in ‘n sirkel teen die heining gemaak, met lekker braaigeriewe en waterkrane. Die kampterrein is maar droog en stowwerig – ons gooi ‘n grondseil by ons kombuis en waar ons sit.
Daar is gesamentlike badkamers wat mooi versorg word. Groot groepe met “Overlanders” oornag ook hier. Die groep wat saam met ons daar was het die waskamer behoorlik benut, ek dink niemand het meer ‘n draad skoon klere gehad nie. Danksy Wifi was almal doodstil en baie besig.


Ou plaasskroot is gebruik om die terrein kunstig te versier. Die Alberts-familie, Dorslandtrekkers van Angola wat hier kom vestig het, het met die ou wa wat daar is, tot hier gekom.



Die ontvangsarea, restaurant en swembad is onder ‘n groot grasafdak met allerhande interessante uitstallings.





Die skilette is van ‘n leeu, hiena, rooikat, luiperd, jagluiperd – nie noodwendig in die volgorde nie. (Ongelukkig kan mense nie daardie slagtande weerstaan nie en is byna almal al uitgehaal.)
Die interessantheid van ‘n wildevy wat ‘n tambotieboom as gasheer gebruik en hom dan later verdring en dood groei, kom ook hier voor.


Die personeel is vriendelik en uiters gasvry. Ons het lekker vriende gemaak en gekuier. Selfs die groot toergroepe was bedagsaam.
Ons sal die volgende keer nader aan Grootfontein wil wees. Ons was al by die Hoba meteoriet, maar sal ook graag by die museum en ander besienswaardighede wil uit kom.


Die driehoek Tsumeb, Grootfontein en Otavi het baie water, die reenval is ook aansienlik hoer daar, daarom is die plantegroei ook besonder ruig. Ons bly op die B8 om deur Kombat te ry.
Van Grootfontein na Windhoek is ‘n stywe trek daarom besluit ons om Otjiwarongo ook te verken.
15. Northen Rock, Otjiwarongo
As medekampers ons nie van die pragtige nuwe kampie, 17 km buite Otjiwarongo op die B1 na Okahandja, vertel het nie sou ons beslis nie daarvan geweet het nie.

Elke staanplek het ‘n badkamer met ‘n stoepie en opwasbak en braaiplek sommer so in die veld. Hier het jy net die voëls en plaasdiere vir geselskap. Lekker ruimte om bene te rek na die lang sit op Namibiese ver paaie. Ons was so gelukkig om lekker baie water in die plaasdam te kry en daarmee saam ‘n interessante versameling watervoëls.
Op die buurplaas is die pragtige trop swartwitpense.




Dis ook nie te ver uit Otjiwarongo om daar ‘n draai te maak nie. (Ons het lekker koffie by die Village Boutique Hotel gedrink en ‘n heerlike ete geniet.)
Die eienaars van Northen Rock, vier jong broers, werk nog hard om die mooi plekkie te ontwikkel. Met soveel intoesiasme en ywer kan hulle net sukses behaal. Hul selfsorg chalets is nog in aanbou.



Van hier na Windhoek is die pad sommer kort en vinnig is ons in die Namibiese hoofstad. Soos enige Namibiër is ek ook nostalgies oor Windhoek. Gewoonlik bly ons by die familie om sommer ‘n groot hap kuier in te kry, maar vanjaar gaan ons bietjie in Windhoek kamp.
16. Urban Camp, Windhoek
Urban Camp is in Klein Windhoek sommer naby die middestad gelee, loop afstand van die winkels. Tog is dit stil en veilig. Miskien bietjie beknop, staanplekke is klein en naby mekaar. Tog maak die uitleg dat jy nie hoor hoe lekker jou buurman slaap nie. Baie kom net vir een nag hier oorslaap, maw kom en gaan, wat die kamp besig maak.
Staanplekke is geplavei en badkamers is mooi netjies. Daar is braaiplekke en mooi tafels en bankies. Die restaurant bedien lekker etes en daar is ‘n swembad.
Vir ons is dit nou winter – Windhoek is koud, winderig en onplesierig. Danksy die geboude badkamers en verwarmers by die ontvangsarea bly ons lekker warm.


Vanjaar het ek twee dinge om in Windhoek te doen.
- Op Aranos in die suide waar ek groot geword het, voor die laerskool het ‘n karavaantjie gestaan met die skoolwapen op geverf. In die begin jare was die karavaantjie deel van die skool. My pa het altyd vertel dat sy ma daarin vir die onderwysers gekook het. Ons het altyd gewonder wat het daarvan geword. En toe hoor ek die karvaantjie is in Joe’s Beerhouse, ‘n restaurant hier naby en ek moet hom gaan soek.





Ongelukkig is hy bietjie uitmekaar gehaal en baie toegepak om deel van die dekor te vorm.
Daar is ook baie ander interessanthede in die bekende en gewilde restaurant. En natuurlik ook in Windhoek.






- My Oupa aan my ma se kant het naby Gochas in die Auobrivier geboer. Ons wou graag weet wanneer het hy daar gekom en hoe het hy die plaas bekom. Wat ‘n ervaring was dit om in die argiewe in Windhoek die 100 jaar oue dokumente te kry en daar in te kon lees? Self dokumente in my oupa se handskrif. Dit was vir ons baie kosbaar.
- Verder kuier ons lekker met die familie. Ons gaan selfs saam kerk toe en deel in hulle etes by die kerk. Dit is dan hier waar ek mense raakloop wat saam ons in die suide groot geword en skool gegaan het. Ons Namibiërs ken mekaar, ek loop altyd iemand raak wat my familie ken of iemand ken wat ek ook ken. Eenmaal ‘n Namibiër, altyd ‘n Namibiër.
En dan breek die tyd weer aan dat ons moet oppak en die langpad suide toe vat. Vandat ek kan onthou was die pad tussen Windhoek en Mariental geteer. Ons ry oor Stampriet met die C20 wat tot in Stampriet ‘n teerpad is. Vanaf Stampriet kan jy die lieflike gruispad in die Auobriviervallei tot by die Kgalagadi Oorgrens Park ry en by Mata Mata deurgaan na Suid-Afrika toe. (Al gehoor van “Huilmooi” – die pad is “huilmooi” – elke keer as ek hier ry loop my trane.
Met die pad vat jy jou tyd, verlustig jou in die ongelooflike omgewing, lees die plase se name. Elke plaas hier het ‘n verhaal. Die pad is nie om haastig te wees nie.





Stampriet is ‘n kleindorpie met 3 skole, vulstasie, winkel en polisiestasie. Selfs die ou poskantoorgeboutjie waar die handsentrale in was is ook nog daar.



Die Persopusbome het ongelukkig hier oorgeneem en die rivier toegegroei. As kind kan ek onthou van fonteine in die rivier, platkuile soos die oumense dit genoem het, maar die uitheemse boom het dit opgedroog. Die foto is in die sewentigs geneem. Kyk daar was geen bome nie. Later meer oor die Auobrivier.

Gochas, die dorp op die wal van die Auobrivier.
Aan die weste is die Auobvallei en aan die ooste die rooiduine, ‘n unieke, besondere wêreld. As jy nog nie op Gochas was nie – mis jy baie.
Daar is ‘n winkel met alles waarsonder jy nie kan klaarkom nie, ‘n vulstasie, selfs ‘n hotel en ander oornagplekke, ook op die plase . En baie gasvrye mense.
Gochas is ‘n geskiedkundige dorp met ‘n ryk verlede. Die polisiestasie was eers teen die wal. Eers het die Duitsers kamele vir vervoer gebruik en later het die polisie van kamele gebruik gemaak om die omgewing te bedien.
Besoek ook die ou Duitse begrafplaas agter die huisige polisiestasie.




Van Gochas ry ons oos met die duine pad. Tot die laat sestigerjare was die lieflike gruispad net 2 en later 4 spore oor die baie hoë los sandduine. Toe daar net 2 spore was moes jy baie versigtig ry om nie in ‘n voertuig van voor vas te ry nie. Daarom die 4 spore, met die 2 spore aan die noordekant het jy wes gery en met die 2 spore aan die suidekant het jy weer na die ooste toe gery. Hier moes jy goed spoed optel om oor daardie duine te kom. Ons het gese “Jy storm die duin.” En as jy onsuksesvol was moes jy terug stoot en weer “storm”. Dit was die “Langbeenpad” van Gochas tot by die Nossobrivier, suid van Aranos. Ry hier ook maar rustig en hou aan die linkerkant oor die duine.


Die duine loop Noord-Suid hier. Tussen die duine noem ons state. Die plaasopstalle is in die strate geleë. Bekende plase hier is Jakkalspan, Mooistraat, Laurensa, Liberty en nog baie meer.

Van Gochas af vat ons die kortpad Aranos toe – eers noord met die Olifantsrivier en dan oos deur die plase. Dit is ‘n draai in my groot-word-jare. Ek moes meer foto’s geneem het, maar ek het die oomblik so geniet dat ek van foto’s vergeet het. (Hopelik kom daar weer so ‘n geleentheid.)
Die volgende kuier is op ‘n plaas teen die Nossobrivier, Suid van Aranos. 2024 was ‘n baie droe jaar maar 2025 het daar goeie reens gekom.






Van Aranos af geniet ons die lieflike teerpad oor die duine verby Stampriet tot by Mariental waar ons die B1 vat tot by Vioolsdrif oor die grens. Weereens stop ons teminste een keer by een van die mooi stilhouplekke langs die langpad. En ons slaap by Namgate Gasteplaas net verby Grunau om die volgende oggend vroeg by die grens te wees.
Om die toer af te sluit sit ek ‘n foto van die Oranjerivier soos wat ons hom in Julie gesien het.





