85 Dae, 14 Kampplekke, 8 450 Kilometers – ons doelwit vir 2025. (Deel 2)

Ons ry met die B1 in Usakos se rigting. Dis net 161 km, waarvan die meeste teerpad is, tot by ons volgende bestemming. Soos ons vorder skuif ons bestemming in die verte nader. Die woestyn bederf ons met baie mooi gras.

Ons draai op die D1918 af en kry later die D3716 (wat erg uitgery is) tot ons die afdraai na die Spitzkoppe Tented Camp and Campsite kry. (Die ouens wat voertuie huur gee nie vir ‘n pad of vir die voertuie om nie.)

5. Spitzkoppe Tented Camp and Campsite by die Spitzkoppe.

Die kampterrein is teen die Spitzkopperivier. Lieflike ontvangs met wifi, ‘n swembad en ‘n restaurant. Ons ry deur die rivier na kamppeerplek 4 met pragtige groot bome en ‘n lekker gelyk staanplek. Ons slaan ons boswa op dat ons die beste uitsig op die Spitzkoppe het. Daar is ‘n vuurmaakplek, waterkraan en ‘n donkie vir warmwater. Saam met ‘n lig in die boom, die houttafeltjie en stoel skep ons ‘n gesellige hoekie. Die Spitzkoppe op die agtergrond rond die prentjie af. Die badkamer, stort en toilet is ‘n klein sinkgeboutjie op ‘n sementblad met ‘n houtpalet om onder die stort te staan. Elke staanplek het so ‘n badkamertjie. Daar is ook ‘n kragpunt. Die kamp grens aan die Spitzkoppe natuurreservaat, maar die ingang is byna 4 km van hier.

Ongelukkig: is dit naby die dorp en het die musiek ons elke nag wakker gehou. (Hier loer kinders deur die bosse en bedel kos.)

Die stort se uitloop was verstop. Die water het oor die sementblad met ‘n houtpalet geloop en rondom die stort opgedam. Die stortkop is in die middel van die stort en het glad nie opgehou drup as hy toegedraai is nie. (Maw daar is geen plek om af te droog en aan te trek nie.)

By ons staanplek was geen wasbak nie, selfs nie om tande te borsel nie.

Ons stap en ry op die terrein wat aan die park grens. Ons geniet die voëls, die bome, die sanderige rivierloop en hoor die nonnetjie- en witwanguil in die nag. Na die goeie reën dra die tsammas en blom katstertjies en stinkkruit in die rivier. Die goggas is nou minder. Ons maak potjie en braai vleis. Ons stap in die rivier se los sand en wag elke aand vir die sonsondergang.

Met ‘n piekniekmandjie en warm water in die fles vir tee en koffie spandeer ons een hele dag in die park.

Die Spitzkoppe is ‘n groep granietberge van tot 1 728 meter bo seespieel wat in die Namib-woestyn se vlaktes uitstaan. Die hoogste piek is 670 meter bo die vloer van die woestyn. Die “Klein Spitzkop” is naby 1 557 meter hoog. Die mees prominente reeks staan as die Pontok-berge bekend.

Die hitte van die woestyn, die algehele gebrek aan water en die isolasie van die piek het dit ‘n besondere uitdaging gemaak om uit te klim. Volgens Wikipedia is daar ‘n moontlikheid dat die hoofpiek reeds in 1904 deur ‘n soldaat van die Schutztruppe bereik is wat ‘n vuur op die kruin gemaak het. (Omdat daar geen natuurlike brandstof is nie bly dit ‘n raaisel waarmee hy die vuur sou gemaak het.) Die soldaat het nooit weer terug gekeer nie en sy liggaam is ook nooit gevind nie. Die eerste gedokumenteerde verowering was deur ‘n Kaapse span klimmers wat deur S. le Roux gelei is. Van die vroegste klimmers het trappe met ‘n hamer en ‘n beitel in die 3 meter hoe graniet rots gekap.

Die kaart word by die ingang vir jou gegee. Dit help jou om by al die mooi plekke uit te kom, maar ook om die mooiste staanplek te kies of dalk om later weer jou kampplek te kry.

  • Daar is verskeie plekke met boesmanrots tekeninge.
  • Om tot by die boogrots te klim is moontlik. Benader dit net van die regte kant af.
  • Klim ook tot by die rotspoel en swem.
  • Om die beste foto’s te neem moet die klein Boesmanparadys eers later in die dag besoek word.
  • Ons het by kampplek 2 tot diep in ‘n kloof gery en rooiwangparkiete en mooi groot Wildedruifbome (Cyphostemma juttae) gesien.
  • Die Boesmanparadys aan die noordekant van die Pontokberg kan net bereik word deur met ‘n ketting oor ‘n baie styl rots te klim.
  • Kyk uit vir die Herero spekvreter (Namibornis herero) en Bergkletser (Myrmecocichla monticola) (Mountain wheatear/mountain chat)

En met die regte houding kan mens die mooiste foto’s neem.

As ons weer die Spitzkoppe sou besoek sal ons eerder in die park by die gemeenskapkamp bly. Die staanplekke is tussen die rotse ver van mekaar met ‘n braaiplek en ‘n netjiese skoon put-toilet. Daar is storte, toilette, waterkrane en opwasplekke by die ingang van die park. Maak voorsiening vir water by jou kampplek. Die hele terrein is omhein met ‘n veiligheidsheining en streng toegangsbeheer. Jou kampgelde sluit ook toegangsfooie in.

Hier pak ons al vinniger op. Alles het nou ‘n plek en ons onthou waar die plek is. Ons maak melk warm vir Wheat bix of Muesli. Ons kook water vir lekker soet tee in ons bekers. Daar is koekies en kasies, droë wors, biltong en nog ander peusel goed in ons kossak in die voertuig.

Ons ry noord met die D3716 by die Spitzkoppe verby Uis toe. Hulle het ons gewaarsku teen die “groot rivier” (Die Omarururivier) se los sanderige kruising op die pad. Die pad is skurf maar die natuurtonele is asemrowend en verander voordurend. Die 95 km gaan net te gou verby.

Ons maak ‘n vinnige draai in Uis se winkel. ‘n Inwoner van Uis groet ons vriendelik. Ons twee het in dieselfde dorp in die suide groot geword. Ek ken haar ma se broer en suster. Dis wat Namibië besonder maak – ons ken mekaar. Hulle stuur ons na “Kaktus en Koffie” vir ‘n middagete. As dit moontlik is eet ons graag iets voor ons by die volgende plek moet afpak en tent opslaan.

6. Brandberg White Lady Lodge, by die Brandberg.

Van Uis af is dit net 40 km voor ons by die pragtige plek stop. (Die “u” word as ‘n “oe’ klank uitgespreek. Maw Uis word as “oeis” uitgespreek.)

Die personeel verwelkom ons vriendelik en hul tuin met die swembad is goed versorg. Hulle plant inheems of plante wat min water nodig het. Veral die moringa-bome het interessante groeiwyses.

Sommer gou is ons oppad om ons eie plek te gaan soek. Die terrein is baie groot. Daar is staanplekke met kragpunte, maar ons verkies om ons sonpaneel wat die boswa se battery laai vir die yskas en die ligte te gebruik. Ons sonpaneel buitelig is vir ons ‘n lekker bederf om in die donker buite te rond te beweeg.

Die Uisrivier loop deur die kamp en sluit by die Ugabrivier onderkant die kamp aan. Die sand is los – ons Toyota trek die boswa maklik tot by die plek tussen 2 groot kameeldoringbome op die rivier se wal. Tydens die vorige reënseisoen het hier baie water geloop. Ons het heeldag ‘n mooi uitsig op die brandberg.

Ons kamp van 15 tot 21 Mei (6 Nagte) hier. Dit werk vir ons goed om ‘n paar nagte op ‘n plek te bly.

Hier is ‘n braaiplek, ‘n waterkraan by ‘n opwasbak en ‘n sementblad. Daar is ook twee buitelug badkamers, stort met ‘n gasgeyser, toilet en wasbak naby ons om van te kies. By die een badkamer is ‘n sonpaneellig wat heel nag brand en ‘n menigte goggas en springkane lok. Gelukkig het die skoonmaker elke oggend getrou kom skoon maak.

Die dae is nog lekker warm om in die skadu te sit en lees of net na die voëls te sit en luister. Laat middag maak ons vuur vir braaivleis, ‘n broodjie of roommieliegereg te bak en om water vir skottelgoed te kook. Die laat aandluggie is nou al bietjie koel vir die storte, daarom stort ons vroeg en sit nog buite.

Hierdie is olifant-wêreld. Hulle beweeg vry rond. Gelukkig of ongelukkig wei hulle nou verder noord. Hier is drink- en badplekke vir as hulle terug kom. Orals is ook waarskuwingsborde.

Die 4 x 4 manne vertoon hulle voertuie se krag in die sanderige rivierloop. Ons geniet die rivier om ver na die berg toe te stap en foto’s te neem. Ons soek uile en kyk voëls in die groot kameeldorings.

Die opdrifsels is hoog teen die bome vas gespoel en die walle is diep uitgekalwe.

Brandberg verwys na die rooi kleur wat die berg soms tydens sonsondergang het. Die berg is graniet wat ontstaan het deur afkoeling van magna onder die aard oppervlak. Dit beslaan ‘n gebied van ongeveer 760 vk km en het ‘n gemiddelde hoogte van 2500 m, dit is 30 km lank en 23 km breed. Sy hoogste punt, die Konigstein (Koningsteen) is 2 573 m bo seespieel. April tot September, as die temperatuur meer gematig is, is die beste tyd om die piek uit te klim.

Ons ry op die Lodge se grond tot teen die berg. Ons geniet die klipkoppies en interessante klippe wat bokant die grond uitsteek. (Enige geoloog se droom.) Die veld is vanjaar geil wat die landskappe wat gewoonlik swart van die klippe is nou wit/silwer laat vertoon.

Die Brandberg huisves die bekende rotstekening ” Die Witvrou”. (Ons was ‘n klompie jare gelede daar. Na my mening is die tekeninge by Twyfelfontein meer indrukwekkend). Reeds in 1917 het Reinhard Maack die tekening ontdek en dit as ‘n kryger geinterpreteer. In 1955 het die Franse priester, Henri Breuil dit as ‘n wit dame geinterprereer. Maar wetenskaplikes is vandag oortuig dat dit wel ‘n kryger of sjaan van die San uitbeeld. Verskeie tekeninge is in die Brandberg gedokumenteer. Krygers of jagters en ‘n groot verskeidenheid diere word gevind. Die tekeninge word met tralies teen vandalisme beskerm. ‘n Gids vergesel toeriste.

Die gebied is baie droog en in die somer styg die temperature tot 40 grade wat dit nog meer onherbergsaam vir diere maak. Tog vind ons ‘n verskeidenheid diere in klein getalle daar. Saam met die woestynolifante word ook soms swartrenosters opgemerk. Die skerpioenfauna in Suidelike Afrika is moontlik die rykste hier.

Plante wat hier groei is alwyne en euphorbias. Agv die droë omstandighede het die bome en plante wat hier groei dikwels ‘n vreemde voorkoms.

Kokerbome is die grootste en algemeenste op die berg. Hulle word tot 5 meter hoog.

Die Cyphostemma currorii (Koba of Botterboom) word tot 6 meter of meer hier.

Olea europaea subsp. afrikana wat nie gewoonlik met droë klimaat geassosieer word nie word op die piek van Konigstein gevind.

Tog is daar ook ‘n paar Brandberg-endemiese spesies soos die giftige Euphoria monteiroi subsp. brandbergensis, Plumbago wissii, Othonna Brandbergensis, en ‘n paar ander.

Die voëls was nogal skaars. Daar is baie kos en water in die veld. Dit het ons goed besig gehou om die groot troupant te identifiseer.

Ander diere in die berg is rotsdassies en muishonde – klipspringers is ook al opgemerk. En miere loop paadjies in die veld en die Lodge se mak meerkatte wei in hulle tuin.

Die mooi grasdak restaurant met tuin en swembad is oor die warm middag ‘n lafenis. Ons kon ons elke middag met roomys bederf – terwyl ons sommer die WiFi gebruik.

Die lodge het ook pragtige selfsorg chalets. Die Groenmamba staan gereed om toeriste uit te vat om die olifante te gaan soek wat tussen Junie en Desember hier kom wei. Of vir ‘n skemerkelkie en mooi sonsondergang.

Die 6 nagte wat ons hier geslaap het, was net te kort, te gou het die tyd aangebreek om op te pak en verder te gaan. Ons ry weer tot by Uis en met ‘n baie goeie grondpad met die mooiste landskappe tot by Omaruru. Parkeerplek vir die Toyota met die boswa is maar skraps in die dorp. Gelukkig is my inkooplysie gereed. (Soos die voorrade op raak skryf ek op). Die Spar het ‘n groot verskeidenheid goeie voorraad en die slaghuise se vleispryse aansienlik beter as Swakop sin.

Ons volg nou die C33 oor die groot Omarururivier na Karibib en draai regs op die D2315 na die Erongo berge toe. Ons het by Conny en Oliver by die Erongo Plateau kamp bespreek. Ons het 3 jaar terug so lekker hier gekamp dat ons nie hier kan verby gaan nie. Die paadjie is rof en skurf – met hulle aanwysings is dit maklik om die kamp op die Erongo berg te kry.

7. Erongo Plateau Kamp

Connie se ouers het ‘n klompie jare gelede die kamp op die plaas Aileen begin. Hier is net 4 kampplekke – C3 en C4 het privaat badkamers en C1 en C2 deel ‘n badkamer. Franklin of C3 waar ons graag tent opslaan se badkamer is geskik vir gestremdes. Die plekke is lekker ver van mekaar. Indien jy alleen wil kamp is dit beslis die plek.

Daar is ‘n afdakkie vir skaduwee en ‘n lekker braaiplek met ‘n sementblad. Daar is opwasplek by die badkamer. Hier kry jy weer geleentheid om jou sonpaneel en sonkraglig te gebruik. Hier is nie krag nie.

Jou staanplek is gelyk en mooi skoon gehark. Soek jou naam voor die staanplek en ontspan. Die kampkommendant is sommer vinnig daar om jou van hout en ‘n kaart met die staproetes en boomname te voorsien. Hy kom maak ook jou badkamer en braaiplek elke dag skoon, asook vuur in die donkie vir warmwater. Die man is goed opgelei en baie hulpvaardig en bedagsaam.

Dit is ‘n kamp in die wildernis. Ons het rooibokke en kameelperde hier raak geloop. Een nag het die zebra’s by ons kamp verby gekom. En die koedoes kom drink water. Die jakkalse roep in die nag – ons het een in die pad gesien. En daar was groot kat spore in die sand op die koppie. Luiperds, jagluiperds, waterbokke, steenbokkies en vlakvarke kan hier raak geloop word.

Die uitsig van die kampplekke is ongelooflik mooi. Noord lyk dit of jy tot teen die Angola grens kan sien en suid van jou is die Erongo berg. As jy met die pad verby die plaas ry kan jy tot in die oog van die uitgewerkte vulkaan ry. Van hier is die sirkel rotse om die oog duidelik.

Die watergat is van die kamp af sigbaar, selfs in die nag is dit verlig.

Moet nie die koppie met die staproetes onderskat nie. (Onthou jou hoed en water) Die staproetes en bome is goed gemerk. Ons geniet dit om die bome te indentifiseer en ook nuwe name te leer.

Die kortstertlaksman, klipluister en verskeie ander voëls is sommer gou aan jou gewoond en kuier sommer hier by jou. Ons hou die bakke onder die krane vol water om hulle te lok.

Groot roofvoëls draai te hoog dat ons hulle kan identifiseer. Die streek spog met 200 voël spesies.

Ons het die trofee van die muskeljaatkat by ‘n lodge dieper in die berg gesien.

Die Erongo berge is ‘n afgeplatte vulkaniese kompleks. Die granietbergreeks is die oorblyfsels van ‘n uitgestorwe vulkaan. Graniet en basaltformasies is deur jare se erosie tot ronde rotse en kranse gevorm.

Die hoogste punt is ongeveer 2 302 meter bo seespieël. Wes strek die Erongo berge tot in die Namibwoestyn en sy ooste kant tot in bosveld vlaktes.

Die dramatiese lig en landskappe maak dit ‘n gewilde plek vir fotografie.

Verder is hier ook indrukwekkende rotstekeninge waarvan die “Wit Olifant” in die suidelike berg die bekendste is. Bekende rotse is die “Bulls party” en “Elephant Head” wat op die plaas Ameib is.

Ons volgende stop in die Erongo berge sal beslis aan die suide kant by Ameib Gasteplaas en Kampering wees.

Van hier is daar maar net een roete en dit is af teen die berg tot by Omaruru. Dit is nou Maandag, 26 Mei – ‘n vakansiedag in Namibië. In die week was daar 3 vakansie dae. Maandag, Woensdag en Donderdag. Alles is toe, selfs die skole het gesluit. (25 Mei – Afrika Dag, 28 Mei – Genocide Day, 29 Mei – Hemelvaart Dag)

Van Omaruru af ry ons deur Kalkveld, Otjiwarongo en Otavi tot in Tsumeb, 321 km. Hier is mooi wildsplase en op verskeie plekke sien ons mooi wild.

8. Kupferquelle Resort, Tsumeb

Tsumeb behoort saam met Grootfontein en Otavi tot die Otavi-, Mielie- of Koperdriehoek. Die streek het ‘n buitegewone jaarlikse hoë reënval. Mielies, graan, vrugte (veral sitrus) en groente word hier sukses vol verbou, maar tog is dit die neerslae van erts en minerale wat die dorpe bekend maak.

2011 het ons buite die dorp by die !Uris Safari Lodge (op die delwers se spore) gekamp. Die Lodge grens aan die historiese Duitse myne – Alt Bobos, Otjikoto, Karavatu en Tschudi. Reeds 120 jaar gelede het hulle in die rotsformasies van die Otavi Bergland gesoek en gemyn om die kosbare minerale en edelgesteentes te ontgin. Aanvanklik eers net koperminerale wat met die hand gesorteer is en met ossewaens na Swakopmund vervoer is. Skroot ysters van die ou myne is gebruik om elke staanplek se badkamers, opwasbak en kook-ruimtes te versier.

Ek sien die lodge is ongelukkig permanent gesluit.

Maar vanjaar wil ons Tsumeb graag verken. En die Kupferquelle Resort verleen hom perfek daar toe.

Tsumeb is in 1905 deur die Duitse koloniale mag primer as ‘n myndorp begin. Volgens Wikipedia is die dorp se ertsafsettings, met verskeidenheid, seldsaamheid en estetika van minerale, deur die Internationale Unie van Geologiese wetenskappe onder die 100 geologiese erfenisterreine regoor die wêreld gelys.

Tsumeb is ‘n gewilde oornag plek vir reisigers na Etosha, Oshakati en Ruacana of via Tsinsabis na Katwitwi, die Angolese grenspos of na Grootfontein, Rundu en die Caprivi.

Hierdie lieflike oord met kampeerplekke onder pragtige groot bome het ‘n olimpiese grote swembad, ‘n restaurant en ‘n waskamer met wasmasjiene en tuimeldroërs.

Tsumeb staan bekend as Namibië se tuindorp. Daar is min plekke in Namibië met sulke lieflike bome. Die oord se bome is gemerk en met hulle lys kon ons weer ‘n paar bome identifiseer.

Die Makelaniepalms, Moringa’s, Jakkalsbessies en selfs ‘n ou Aruhout en Witgatboom is baie gelukkig hier. Daar was ‘n pragtige groot Bruin ivoor sommer by ons tent

In die helder skoon damme swem die eendjies en visse rustig. Soms kom bedel die eendjies kos en los hopies op jou grondseil.

Interessante feite van die Tsumeb en die omgewing:

Die Otjikoto meer is net 20 km noordwes van Tsumeb langs die B1. Dit is die kleiner een van die twee sinkgatmere in die omgewing. Die sinkgatmeer is deur ‘n ineenstorting van ‘n krast grot geskep. Dit is 102 meter in deursnee en deur skandering vermoedelik 91,44 meter diep. Na onder verdwyn die meer in laterale grotstelsels wat dit onmoontlik maak om ‘n gewig te gebruik om diepte te bepaal.

Die Herero’s noem die meer Otjikoto, wat “diep gat” beteken. Francis Galton en Carl Johan Anderson was die eerste Europiërs wat die gat besoek het.

Om te voorkom dat die Suid-Afrikaanse en Engelse troepe hulle wapens gebruik, het die Duitse Schutztruppe tydens die Eerste Wêreld oorlog voordat hulle oorgegee het in 1915, hulle wapens in die meer gestort.

Die meeste van die groter stukke is herwin en word in die museum in Tsumeb uitgestal. Ten minste 2 kanonne en ‘n hoeveelheid ammunisie, is nog steeds in die meer en kan met die nodige permitte en duiktoerusting besigtig word. (Dis nie vir my nie.) Volgens die oorlewering is daar ook nog ‘n verseëlde kluis met 6 miljoen goudmark- daarna soek hulle nog.

‘n Plantkundige het in 1911 verskeie onbekende plantspesies hier versamel. Die spesie sikliedevis, Tilapia guinasana, wat nou ook hier voorkom, is van die Guinasmeer na die Otjikotomeer gebring.

Kyk ook uit vir die Luislangboom.

Die Guinasmeer is 38 km noordwes van Tsumeb op privaat grond. (Draai net ‘n paar kilometer noord van die Otjikotomeer wes op die D3043 en ry totdat jy die afdraai bord na die meer op jou linker kant kry.)

Volgens Wikipedia is die sinkgatmeer ongeveer 300 meter lank en 175 meter breed, met ‘n maksimum diepte van 133 meter. Die meer is die tuiste van die bedreigde spesie sikliedevis, Tilapia guinasana.

Die bewering dat die twee mere verbind is kan nog nie bewys word nie.

Op die plaas Harasib, ‘n entjie oos van Tsumeb lê die derde en een van die wêreld se grootste en diepste ondergrondse mere. Dit kan slegs deur of abseil of om met ‘n antieke, handgesmeede leer van meer as 50 meter teen die dolomiet muur van die grot af te klim, bereik word.

Die San of Boesmans het die koper ertsafsettings eerste ontdek en het reeds van vroeg af al koper op die oppervlak ontgin. Dit is egter gou deur die kolonialiste ontdek. Weens die ligging en gebrek aan vervoerroetes het hulle besef dat dit moeilik was om te ontgin.

In 1900 het die Engels-Duitse Otavi-myn en spoorwegmaatskappy met industriële myne begin. Koper, lood, sink en meer as 200 ander minerale waarvan sommige net hier voorkom, is ontdek. Die eerste vrag erts wat na Europa verskeep is, is per ossewa na Swakopmund vervoer.

Vir die bou van die spoorlyn na Swakopmund, wat in 1906 voltooi is, is Ovambo’s en Herero’s gebruik. Dit is dan ook een van die hoofredes vir die Herero-opstande in 1904. Na die voltooiing het die dorp ‘n ekonomiese oplewing gehad. In 1907 het Tsumeb reeds ‘n hoëdrukwaterpyplyn gehad.

Met die uitbreek van die Eerste en Tweede Wêreldoorlog en wêreldwye ekonomiese krisis het die produksie afgeneem en is daar vandag slegs gedeeltes van die myn wat nog in werking is.

Die plaaslike Museum verskaf ook baie inligting oor die ryk geskiedenis van die myn. Masjiene en toerusting kan hier gesien word.

Die Museum is beslis ‘n besoek werd. Die verskillende vervoermiddels, radio’s en later telefone word uitgestal. Die kanonne en ammunisie wat uit die Otjikoto meer herwin is maak ‘n groot deel van die uitstallings uit. Daar is verskillende vertellings van die krygsgevangenekampe en gevegte in die Otaviberglande. Maak net genoeg tyd om alles te lees.

Tsumeb spog ook met ‘n verskeidenheid historiese kerke en ander geboue.

Die Jordaanrivier in die Verenigde Nasies Park met die ou groot bome, veral Jakarandas in die dorp skep ‘n rustige atmosfeer waar mense kuier of die kerke hulle basaars hou.

Die pragtige Minen Hotel kyk ook uit oor die park. ‘n Ete in die hotel se pragtige eetkamer met wit tafeldoeke en netjiese Ovambo kelners het my na my kinderdae laat verlang. Orals in Namibië was dit so gedoen. Natuurlik het ek ook ‘n krummelvarktjop geeet. (Ek wou nie so groot gaan nie, maar op aanbeveling van ons kelner het ek dit maar gedoen.)

By Sonja’s Kitchen is ons bederf met heerlike kaaskoek en wortelkoek. Sy maak ook vir jou Two Beards koffie.

By Kupferquelle se restaurant het ons die interessante pizza met steak repies, gebakte lewerballetjies en ‘n gebakte eier, geeet.

Ons bure in Kupferquelle was ‘n gesin van Switserland. Hulle vertel dat hulle alles verkoop het en met die voertuig deur Afrika tot hier gekom het. Die voertuig en alles binne in, is hul enigste besittings. Daar is selfs ‘n koolstoof vir hitte vir die kouer dae geinstaleer.

Selfoonwenk: Oral in Namibië is selfoon-ontvangs, die meeste blyplekke het Wifi. Ons het familie en vriende wat belangstel waar ons is en wat ons doen. Ek het vir my ‘n “broadcast” groepie op Whatsapp geskep. Daarmee stuur ek vir my 15 lede een boodskap en as hulle antwoord kom dit op hulle naam na my toe terug. So belas jy niemand anders met ‘n klomp boodskappe nie. Verder het ek Collage foto’s gemaak om te stuur, tenminste 5 foto’s in een. Die groep het dit baie geniet om so met ons kontak te hou.

Ons het ‘n hele week by Tsumeb oorgestaan. Lekker gerus, wasgoed gewas en voorrade aangevul. Ons het die dorp leer ken en kon selfs by ‘n kerk ‘n draai maak.

Van hier is ons tot teen die Angola grens en verder na die Caprivi tot teen die Zambezi. Hulle praat van die Vier Riviere Roete, Kavango-, Kando-, Zambezi- en Choberiviere.

Lees ook Deel 3 van ons 2025 Namibie-Toer.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.