Met goeie beplanning kan mens enige reiservaring 3 keer geniet. Eers die navorsing, beplanning en voorbereidings, dan kom die toer en dan die herinneringe en na-betragting.
90 dae is die maksimum wat ons in Namibië sonder ‘n visum kan bly en ons wou dit vanjaar optimaal benut.
Die ander ideaal wat ons het, is om by of in die berge in Namibië te kamp. Ons het al ‘n paar gedoen, maar nou kan ons die geleentheid benut om daarmee voort te gaan.
Ons beplan om maksimum 500 km in een dag teen maksimum 100 km per uur af te lê. Teen die spoed kan ons die omgewing waar ons ry, geniet.
Ons vertrek na Paasnaweek om die verkeer op die paaie en op die grens te mis.
Ons eerste oornag plek was Springbok. Die eerste nag op die pad verkies ons om in ‘n selfsorg plek te slaap. Dan kan ons vroeg die volgende oggend weer in die pad val. Gina’s place bied vir ons ‘n gerieflike slaapplek met veilige parkeerplek vir ons voertuig en boswa. Ons pak net ons aandete en oornagsakkies uit sodat alles more weer vinnig ingepak kan word.



Ons mors nie tyd nie, die langpad wag. Die Vyfmylpoort voor die Namibiese grens is nou mooi herstel na die vorige groot reëns en verspoelings. Ons is sommer vroeg by die grens.
Vioolsdrif en Noordoewer – oor die Oranjerivier
Die rivier is nog vol. Ons neem ‘n paar foto’s om te vergelyk as ons terug kom.
Ons hou maar altyd by die grensreëls en vereistes. Geen rou vleis, rou groente of vrugte nie, of enige iets om te verklaar nie. Ons groet vriendelik en almal is hulpvaardig.

Vroegoggend is die vlaktes met hul unieke kleure, ‘n bekoring. Selfs die suide van Namibië het goeie reëns gekry. Gewoonlik is die landskap net swart klippe, maar vanjaar is dit wit van die gras.
‘n Interessantheid wat ek nog graag wil ondersoek is Blinkpan noord van die pad. In daardie droë deel lyk dit altyd of die pan vol water is. (Sommer ‘n vinnige selfoonfoto terwyl ons ry.)

Namgate se Vleispadstal, 5 km voor Grunau is altyd ‘n lekker plek om vars vleis, wors en biltong te koop. Die Van der Merwes ken vleis en weet hoe om met die nodige respek te werk. Kontak hulle gerus om jou bestelling te plaas. Jy sal nie spyt wees nie – na die grens is dit ‘n goeie plek om jou vleis voorrade aan te vul.






Van hier geniet ons die Karasberge, ook vanjaar spietwit van die gras wat nou alreeds in die saad staan. Ons stop ook graag by een van Namibië se mooi skoon plekke langs die pad. Gelukkig is daar nog genoeg padkos. Dis nou die voordeel van ‘n yskas in die boswa. Ons sorg net altyd vir warm water in ons fles.
Ons geniet die 2 se ruitplakker op hulle Isuzu.

Die Wimpy net voor Keetmanshoop het mooi skoon badkamers en lekker warm ontbyte of milkshakes vir die somer. Dis ‘n goeie stop om te maak. (Maak seker jou voertuig is gesluit.)
Van hier is dit nog ‘n stywe trek tot in Mariental. (230 km) Aan die westekant kom en gaan die uitgewerkte vulkaan, Brukkaros. Daar is ook verskeie klein woongebiede. Eers Tses, oos van die B1. Dan kom Berseba, net suid van Brukkaros, dan Asab wat altyd ‘n vulstasie gehad het, (daar is nou weer ‘n winkel) en dan Gibeon. Dis ‘n treinstasie maar na die weste is daar ook ‘n dorpie.

Die mooi lugfoto is by Wikipedia geleen.
1. Mariental: River Chalets
Ons slaan graag by die River Chalets tent op. Van die kampplekke is maar klein. Die ander nadeel is dat dit teen die B1 is. Daar is deur die nag verkeer. En dan is daar soms ook musiek van die dorp af. Die badkamers is mooi skoon en baie gerieflik. Ons het ook al in hulle chalets geslaap. Bespreek maar vroegtydig. Die plek raak vinnig vol. Die Padstal by die ingang het heerlike kos en koffie. Hulle pizza’s was ‘n lekker bederf. (Truffle olie is heerlik op ‘n pizza)
Dis ook gerieflik naby die dorp om jou voorrade by die Spar of Shoprite aan te vul. Daar is ook garages, banke, ‘n Clicks en ‘n MTC vir ‘n Namibiese simkaart. Maak ook ‘n draai by Ry en Kry Slaghuis vir baie goeie vars vleis, biltong en droë wors. Hulle biltongblare is besonder lekker sag en smaaklik. Probeer hulle gerus – dis ‘n lekker peuselhappie vir die langpad.
Net suid van Mariental draai die pad van die B1 af na Maltahohé. Op die pad ry jy deur Voigtsgründ, ‘n plaas waar die karakoelboerdery o a sy ontstaan gekry het. Van hier ry ons vanjaar wes na die Namib toe. Ons mik vandag vir Zebrarivier Lodge in die Tsarisberge. (Uitspraak – Tsaaries berge)

Maltahohe:
Maar eers stop ons by Die Lily Deli in Maltahohe. ‘n Vorige keer het ons hier heerlike dadels van die Naute dam, suid van Keetmanshoop gekry het. (Ons was nou nie weer so gelukkig nie.) Die Deli kry sy naam van die beroemde leliepan naby Maltohohe, maar ons is te laat vir die lelies.




By Maltahohe hou die teerpad op. Nou moet ons plan om die klippe van ons agter ruit af weg te hou, in werking gestel word. Ons sit ons klippeskerm tussen die bakkie en die wa op. (Ons het al 2 keer ‘n agterruit verloor omdat ‘n klip vanaf die wa teen die agterruit vasgeslaan het. Ons vat nie meer ‘n kans nie. My man het die plan gemaak. Dis maklik, vinnig en uiters effektief.


Hier draai ons noord op die C14 en met die eerste afdraai op die D850 draai ons links. Die pad is net iets meer as ‘n gewone plaaspad. Die rivierlopies is redelik verspoel en waar water in die pad opgedam het, is dit maar grof. Nou vorder ons maar nog stadiger.



2. Zebrarivier Lodge, in die Tsariesberge.





Wat ‘n lieflike plek tussen die berge in die Zebrarivier vallei? Die ou opstal word as die ontvangs en restaurant gebruik. Die chalets is pragtig en modern. Die swembad is ‘n lafenis in die warm somermaande en die tuin mooi uitgelê vir die droë omstandighede. Die reënval gemiddeld is 70 tot 100 mm per jaar.
Die kamp het vier mooi geplaveide staanplekke onder ‘n afdakkie met ‘n pragtige badkamer. Voor donker word die donkie gestook vir heerlike warm badwater.
Ons ontmoet vir Elna Lubbe, die bestuurder en kuier lekker. Ons geniet haar inligting oor die geskiedenis van die plaas. Die Neu-Onis familie het reeds 1930 die eerste woonhuis gebou. Later is daar ook ‘n vrugteboord aangelê vanwaar die omliggende plase van vrugte voorsien is. Dit het later tot niet gegaan en is nou ‘n vliegveld.
Zebra’s, koedoes, klipspringers en vlakvarke kom drink by die watergat. Ongelukkig is daar voorheen baie gejag en is die wild maar skaars en wild. Die nuwe eienaar, Jean-Pierre Rambert woon in Mauritius en is ingestel op bewaring. Die Zebrarivier vallei is ook ‘n voëlkykersparadys – daar is reeds al meer as 130 spesies geïdentifiseer.
Ons is die enigste gaste in die klein kampterrein. Ons stap, maak potjie en geniet die sonsopkoms en ondergang. Ons besluit om vroeg kos te maak en klaar te eet voor die son onder gaan. As ons eers ligte aansit kom kyk al wat ‘n gogga is kyk wat hier aangaan, selfs die koringkrieke kom klim teen jou stoel op en kort voor lank sit jy met ‘n koringkriek op jou skouer. Hulle sal nie byt nie, maar sit ‘n vreeslik keel op as jy hom afklap. As jy op hom trap kom die ander vir die begrafnis en eet saam, hulle is kannibale.





Ons het ook besluit om eerder ‘n paar dae op ‘n plek af te pak en van daar af die omgewing te verken.
Hier het ons drie dae gebly voordat ons weer met die D850 ry tot by die aansluiting van die D854 by die Tsauchab Rivier Kamp waar ons regs draai na Bullsport toe. Ons besluit om Remhoogte te mis daarom vat ons Rietoog pad. Ons ry teen die Naukluftberge verby die ingang na die Naukluftpark. Later draai ons na Lepel toe en ry verby die Spreetshoogtepad tot by ons nuwe blyplek.
Dit was nou voorwaar ‘n interessante nuwe pad met pragtige natuur, mooi rivierlope en bome.






3. Nauams of //Khaes in die Khomashoogland.
Met die D1261 kom ons by die hoogste plaas in die Khomashoogland uit. Die graskoppies is ‘n lus vir die oog. Frank en sy familie doen regtig moeite om dit vir hulle gaste ‘n ervaring of belewenis te maak. Dis ‘n nuwe kamp … alles is so perfek beplan. Nauams is presies in die middel tussen Windhoek en Sossusvlei.
Een van die werkers verduidelik vir ons dat “Nauams” die Duitsers se naam vir die plaas is, maar die Nama’s praat van “//Kaes”, wat “stop” of “draai om” beteken. Dit was die stopplek of omdraai punt van die Nama’s. As jy van die Khomashoogland af nog verder wes gaan is jy in die Namibwoestyn.



Hier kamp ons in die veld teen klip koppies. Dis lieflike gelyk kampplekke met ‘n afdak, braaiplek, wasbak en sement en klipbankies. Elke staanplek het sy eie privaat badkamer met genoeg plek vir jou badtoerusting. Die buitelug badkamers versterk die gevoel om in die natuur te wees. As dit reën of as die son baie warm is moet jy maar ‘n sambreel saam vat toilet toe. Daar is plastiese emmertjies om jou toiletpapier in te bêre dat dit nie nat reën nie.





Ons kon hier lekker ver stap, of tot laat buite sit en sterre kyk. (Die lugruim wemel nou van die sateliete) As jy in die dag lank genoeg stil sit, sien jy koggelmanders, voëls, dassies en skerpioene tussen die klippe. Ons het selfs ‘n klein paddatjie in die paadjie gesien. Kyk ook maar uit vir slange. Die bedreigde wildedruif groei ook geil hier. Hier ontspan jy en word net weer mens.
Of kom ry saam met Frank fiets. (Kontak hom vir meer inligting)




Nauams se winkel het alles waar sonder mens nie kan klaar kom nie. Hulle bedien ook die beste koffie in Namibie. (Two Beards van Swakop). Bederf iemand by die huis ook met so ‘n pakkie koffie. Daar is ook heerlike vars tuis gebakte koekies en beskuit in die winkel. Kyk ook in hulle yskas vir egte Namibiese skaaptjops of sit op die stoep voor hulle winkel, daar is atmosfeer soos op min ander plekke.



Hier is ook pragtige chalets vir die ouens wat moeg gekamp is of ander wat nie wil kamp nie. Natuurlik is daar ook ‘n swembad om in af te koel. Die somers is lekker warm.



Hier bly ons 2 dae voordat ons met die Gamsbergpas tot onder in die Namibwoestyn ry. Van die pad kry ons net nooit genoeg nie. Jy kruis die Wiesenfellsrivier twee maal. Kyk uit vir Moringa- en Kanniedoodbome of die bedreigde wildedruif. Later sien jy ook die Gamsberg, Namibië se eie Tafelberg. Hier is ook baie ander heerlike kampplekke.






As jy eers deur die Kuisebrivierpas is begin die plat vlakte tot by Walvisbaai. (Ons hoop die Namibiese regering teer vir ons die baie besige pad.) Nou is jy in die Namib Naukluft park. Kyk uit vir Vogelfedderberg langs die pad. Daar is lieflike kamp- of piekniekplekke in die skadu van die klippe. (Onthou jou permit, boetes is groot as jy hier sonder ‘n permit gevang word)








As mens eers by Walvis op die teerpad is, is die lewe ‘n lied. Hou maar die weervoorspelling dop vir oosweer wat sandstorms bring. ( Dit kom gewoonlik as die binneland afkoel)



4. Alte Brucke in Swakopmund.
Alte Brucke is die kamp in Swakop, dis een plek waar mens vroeg moet bespreek om plek te kry. Ons het hier al op verskeie plekke tent opgeslaan. Oral is dit net lekker om jou eie badkamer by jou tent te hê. Die opwasbak en werksblad met kragpunte en braaiplek laat ons baie spesiaal en bederf voel. Die vriendelike en behulpsame personeel doen moeite om die terrein mooi netjies te hou. Groet en kuier bietjie met hulle.
Van hier af loop ons lekker in Swakop se strate rond. Eindlik kan mens Swakop net te voet verken.







Alte Brucke beteken “ou brue”. In die Swakopriviermond is die oorblyfsels van die ou trein brug wat met ‘n vloed in 1934 weggespoel het.
Swakop het ‘n ryk geskiedenis met baie besienswaardighede. Die geboue is die beste bewaarde deco art geboue in die wêreld. Die strate is nog van sout gemaak en daar is heerlike Duitse gebak in die winkels.
As jy by Alte Brucke se hek uitgaan kry jy die 3 ankers van die maspaal van die 86 meter hoë radiostasie waarmee die Duitsers in die ooglogtyd met Berlyn gekommunikeer het. (1911-1912) Een is reg voor die hek, regs van jou is nog een en by die hotel die derde een.


Verder noord teen die see is die ou Jetty. Dit is in 1905 is vir passasiers en vrag met hout gebou, maar in 1916 is dit met staal vervang
Verwyl ‘n oomblik in die koffie- en donutwinkeltjie in die begin van die Jetty. Pa en seun met regte Namibiese gasvryheid skep atmosfeer wat mens nog lank laat terug verlang.





Kyk ook uit vir die ou Hansa-bier fabriek.
Hohenzollernhaus is een van die oudste geboue wat reeds in 1906 gebou is. Die gebou was vir baie jare as ‘n hotel gebruik. (Daar is gerigte dat iewers in die verlede ook ‘n bordeel was.)
Woermanhaus met die Damaratoring is in 1904 ontwerp en in 1905 geopen vir die Damara en Namaquehandelsgesellschaft. Toe Woermann & Brock dit in 1920 oorgeneem het, het die naam verander.
Alte Kaserne is 1906 deur ‘n spoorweg maatskappy gebou.
Prinzessin Rupprecht Heim in Anton Lubowski straat is in 1902 vir ‘n millitere hospitaal gebou. Na ‘n lang geskiedenis was dit later ook die kraamhospitaal van die Roomskatolieke.






Loop verder aan met die palmlaning tot by die mole. Die hawe muur (die mole) is in 1899 in ‘n poging om ‘n hawe te maak, gebou. Baie gou het die see strome sand daar gedeponeer en was dit te vlak vir bote om te anker. Nou is dit Swakop se swem strand. Ons het reeds in die begin 60’s die heerlikste roomys by die strandkafee’s gekoop. Nou is hier ‘n pragtige hotel met heerlike ontbyte en etes. Die museum, ligtoring en die amfiteater is hier. Die monument is die Marine Denkmal – opgerig vir die eerste Mariene ekspidisiekorps wat tydens die Herero-oorlog in 1904-1905 gesneuwel het. Die figuur stel ‘n marinier voor wat by sy gewonde makker staan. Dit is in 1908 in Berlyn gegiet en deur die bemanning van die Duitse kannonnierboot, Panther aan die dorp geskenk.






Loop ook in die besige strate, geniet die boekwinkels – kyk uit vir “Die Muschel” boekwinkel vir boeke oor Namibië. Koop roomys by “Spice and Ice” naby Woolworths. Stop later by die Village Cafe vir middagete.






Die “Crystal Galerie” huisves die grootste bekendste kwarts-kristalkluster wat ter wereld uitgestal word. Dit is 3 m hoog, 3 meter breed en weeg 14 100 kg. Dit is in Augustus 1985 op ‘n plaas in die Eongo streek van Namibië ontdek. Dit het 5 jaar geneem om die kwarts-kristalkluster uit te grawe.

Die ou stasiegebou, Bahnhof is in 1901 opgerig om Swakop en Windhoek met mekaar te verbind. Dit is nou ‘n hotel. Die ou tronk en die Lutherse kerk, eindlik net teveel om op te noem.



Daar is genoeg koffiewinkels om elke dag by ‘n ander een koffie te drink. Ons kuier graag by Two Beards. Daar is koffie met interessante kombinasies van verskillende geure – ook kondensmelk. (Orals in Namibië kry jy van die koffie) Soek hom op Google, hulle is in die industriële gebied. En as jy eers daar is kan jy ‘n entjie verder aan met die pad na Windhoek stop om na die ou stoomtrekker, Martin Luther met sy unieke verhaal, in sy glaskas te kyk. Op die pad is die kasteel Nonidas op die Swakoprivier se wal. Of wat van Goanikontes, ‘n oase verder in die Swakoprivier by die Maanlandskap en Welwitchias. Hulle restaurant het ook koffie en lekker koek
Natuurlik is daar ook genoeg winkels om jou voorraad aan te vul. Die Spar en Woerman het goeie voorraad. Koop Melitta se Auslese koffie en onthou Haribo vir die langpad. Namaque slaghuis se vleis is vars en wors en biltong smaaklik voorberei. Otto Gunther en verskeie ander plekke het mooi breek- en kombuisgoed. En Cymot en Bushwackers voorsien in ons kampbehoeftes.
Little foot kwekery is ook ‘n lekker rondloop plek met baie mooi goed. Daar is ook ‘n mooi restaurant vir koffie en pannekoek.
Maak ook ‘n draai in Swakop se Platz am Meer waterfront. Daar is ‘n Dischem en ‘n verskeidenheid klerewinkels, eet en koffie plekke.
Ander dinge om te doen is Kameelritte in die Swakoprivier en in die Namib. Vir my lyk die Quad ritte of om met ‘n bord teen die duine af te gly, bietjie wild. Ek gaan stap eerder Duin 7 by Walvis uit.
Gaan kyk skeepswrakke teen die kus. Walvis en Hentiesbaai is ook naby genoeg koffie te gaan drink.



Die besondere Namibiese dorp is beslis nie net vir visvang nie.
Na 10 onvergeetlike dae pak ons op en verlaat die hartsplek met ‘n knop in die keel. Een troos is dat ons uitsien na ‘n volgende keer.
Ons ry met die B1 na Usakos toe. Dis net 161 km, waarvan die meeste teerpad is, tot by ons volgende bestemming. Soos ons vorder skuif ons bestemming in die verte nader. Die woestyn bederf ons met baie mooi gras.

Ons draai op die D1918 af en kry later die D3716 (wat erg uitgery is) tot ons die afdraai na die Spitzkoppe Tented Camp and Campsite kry. (Die ouens wat voertuie huur gee nie vir ‘n pad of vir die voertuie om nie.)
Lees in deel 2 verder oor die toer.