
Soos baie dinge in die lewe is daar ook vereistes waaraan ‘n lekker stopplek langs die pad, moet voldoen. Basies moet dit alle verwagtings oortref en jou onmiddelik tuis laat voel. Skoon en netjiese badkamers is ook ononderhandelbaar.
Natuurlik kan dit ook binne ‘n dorpie wees of sommer op die vlak, waar mens dit glad nie verwag nie.
Wat vir my ‘n bonus is, is skadubome met mooi tafeltjies en ‘n bankie of stoele. Soms koop ons lekker vars warm koffie en kan dit saam met ons padkos geniet of daar is dalk lekker wegneem opsies op die spyskaart.
OMA MIEMIE. CAFE EN BAKERY.
In Kenhard, Noord Kaap is Oma Miemie al jare aan ons bekend, maar het ons vanjaar met ‘n splinternuwe voorkoms verras …… met koffie uit die boeke uit.


Terwyl ons rustig met die ander gaste kuier berei die personeel vir ons ontbyt voor. Natuurlik het ons baie om oor te gesels, ons het gemeenskaplike belange. Waar kom julle vandaan en waarheen is julle oppad? Die manne ruil wenke uit oor banddruk, brandstof verbruik en hoe die pad vorentoe lyk.



Tussen die beskuit en koekies wat netjies verpak is, kry ek n pakkie kaneel-suikerrolletjies wat ek vir die volgende week saam met my tee geniet het.
Behalwe vir gebak is daar ook ander ingelegte heerlikhede wat jou koskas ‘n interessante kinkel kan gee.
Oma Miemie is werklik ‘n besoek werd.
KANONIKI PADSTAL
Ons het die lieflike padstal naby Oranjerus, suid van die Oranjerivier op die Louisvalepad (R359) ontdek.
Thea, Joa en Petro het potensiaal in die ou Oranjerivier wynkelder se proelokaal gesien. Hulle was gelukkig om dit te bekom. Met harde werk en deursettingsvermoe het hulle die lieflike gebou opgeknap en omskep in ‘n lekker ruim padstal. Daar is geen gebrek aan atmosfeer nie, veral as jy die intoesiastiese eienaars raakloop.



Hier kan jy ook ‘n lekker groot ontbyt bestel. Kry gerus die spyskaart, die mense kan kos maak.
Terwyl ons wag en rustig aan koffie teug het ons die geskiedenis en gebeure van Kanoneiland by die eienaars gehoor. Teen die groot Oranjerivier het landbou vanaf die vroegste jare ontwikkel en floreer.

Kanoniki spesialiseer veral daarin om die omgewing se kuns uit te stal en te verkoop. Op elke item verskyn die naam van die kunstenaar. En glo my, elkeen is n kunstenaar in eie reg. Jou hande jeuk om jou mandjie vol te pak.




Kanoniki het n wye verskydenheid gebruikte boeke om uit te kies. Dit is ‘n lekker bederf as jy daar naby kamp en lief is om te lees.
Ek sal Kanoniki vir enige avontuurlustige met vrymoedigheid aanbeveel.
DIE PIENKPADSTAL.
Net ‘n paar kilometer voor Kakamas op die N14 is die lieflike stopplek. Jy kan hom nie mis nie. Stop asseblief !!!


Heerlike gebak, ingelegte en gedroogte vrugte, nuwe en gebruikte boeke en nog vele meer maak die rakke vol. Ons het nog nie daar geeet nie, maar die restaurant lyk vol belofte. Die badkamers is rolstoel vriendelik.
Lekker vars growwe mieliemeel is in pragtige materiaalsakkies te koop. Ek stop hulle met watteersel en werk hulle toe vir stoelkussinkies.



Voorop is ‘n mooi prentjie en agterop lekker leesstof vir die leergierige.
“Die Pienkpadstal” maak die langpad kort en die omgewing onvergeetlik.
OPPI VLAK PADSTAL
Die besondere padstal is op die N9 tussen Willowmore en net so 10 km verby die Beervleidam. ( Die dam, wat eindlik nie ‘n dam is nie, maar eerder ‘n keerwal. Wanneer die rivier in vloed is beskerm die wal in der waarheid die Baviaanskloof teen oorstroming en verspoelings)
‘n Beter naam kon die besondere padstal nie kry nie, hy is tussen niks en nêrens. Dis nou regtig n plek om bene te rek. Daar is plaasdiere en ou implemente, interessante plante en baie meer.
Die ingang is rolstoelvriendelik. (Hou ook jou vierbeenkinders aan hulle leiband. Plaasdiere loop hier vry rond.)

Stop hier vir lekker koffie en roosterkoek. Vra sommer bietjie uit oor die omgewing en kuier met ander wat ook bene rek. Dis nou ‘n ouwêreldse ervaring tussen blikke en oudhede.



Maak ook gerus ‘n draai in hulle moderne “longdrop”. Die houtwerk verstom my en alles is skoon en reukloos. Om water te spaar het hulle die plan gemaak. Respekteer hulle “boereplanne” in hierdie dorre deel van ons land.


Maak tyd om ook al die interessante wyshede op die bordjies te lees.

As ons weer hier stop sal ek beslis nog ‘n paar foto’s neem.

KAMDEBO STAL/STALL

Op dieselfde roete kry jy die Kamdebo stal. Buite het jy ‘n keuse van skaduwee of son parkering. Alles veilig en ook groot omdraai plek vir jou sleepsels.

Let ook op die unieke versameling plante in die tuin. Hier is alles gefokus op oorlewing.

Hier stop ons vir tee en die lekkerste pannekoek. Terwyl die pannekoek gebak word, kuier ons heerlik. Hoor hoe droog dit is of van goeie reens in die omgewing en die blomme in die veld. Die tee en pannekoek kom altyd net te gou.
Op hulle rakke is lekker koekies, beskuit en gedroogte vrugte, gemmerbier, konfyt en ingelegte vrugte, teveel om van te kies. Daar is ook mooi naaldwerk, enemelbekers en bakkies. Koop sommer hier iets om saam huis toe te vat.
Die badkamers is mooi netjies en word gesluit sodat dit vir die gaste gereserveer kan bly.
JAGTPOORT PADSTAL
Ry met die N9 roete van Graaff-Reinet na Middelburg. Hier kry jy twee pragtige bergpasse, die Naude’s Bergpas en die Loodsbergpas en dan is jy bo-op by die Jagtpoortpadstal.
Wanneer jy hier stop daal ‘n rustigheid oor jou neer. Hier is genoeg plek om te stap en bene te rek. Die lug vars en skoon. Wanneer jy die pad verder aanpak voel jy verfris en vars.
Binne is heerlike eetgoed en geskenkies. Kuier gerus met die gasvrye, vriendelike mense.





PAMPOENPADSTAL, TUSSEN WORCESTER EN ROBERTSON

Die pragtige padstal, langs die R60 tussen Worcester en Robertson, kan jy nie mis nie. In pampoentyd lê daar vragte pampoene.
Die boer spesialiseer in pampoene. Stop gerus en bewonder die kuns van pampoene. Grotes, kleintjies, rondes, plattes en kalbasse, om nie eens van die kleure te praat nie.
Pampoene en hoenders het vir my dieselfde besondere nostalgie.
Koop en gaan maak jou eie pampoenrangskikking. Dit helder enige donkerhoek in jou huis op. Dit hou langer as blomme, is goedkoper en lok altyd ‘n paar interessante opmerkings uit.



Van hier het jy ook ‘n besondere uitsig oor die Langeberg. In die winter lê die sneeu wit op die bergreeks.


En soms, as jy gelukkig is lê hier ook ‘n paar maketane. Onthou jy daardie wilde waterlemoene waarmee ouma konfyt gekook het. In stroop of die stukke in klapper of versuiker om in vrugtekoek te sit. Vandag is dit skaars maar nie onmoontlik om te kook nie. Koop en gaan probeer gerus.