Blyderiviercanyon:

Die Blyderiviercanyon is een van die drie grootste canyons op aarde. Anders as die Visriviercanyon in Namibie en die Grand Canyon is die Blyderiviercanyon ‘n groen canyon. Die klimaat is subtropies, die winters is gematig, maar die somers baie warm en vogtig. Hier kan meer as 2 000 milimeter reën in ‘n jaar val.

Die 26 km Canyon spog met ‘n 57 km roete deur die Blyderivier-canyon Natuurreservaat met verskeie toeriste aantreklikhede. Op die panorama roete wat by Graskop begin kry ons die Drie Rondawels, God’s Window, die Pinnacles en die Bourke’s Luck Potholes. En natuurlik ook die Blydepoortdam met sy wal wat 72 meter hoog is.

In “Die Natuurwonder van Suider-Afrika” skryf Alf Wannenburgh:

“Uit die hooglande van die Transvaalse Drakensberg stort die Blyderivier meer as ‘n duisend meter neer na die Laeveld en sny die massiewe eskarp weg om sodoende die enigste ware canyon in Suid-Afrika uit te kerf. Waar dit uit die berge tussen Marepe en Swadene pieke te voorskyn kom, omraam torringhoë kwarsietkranse ‘n uitsig van bebosde laagland wat verby die horison strek na Phalaborwa, en ooswaarts na die see.”

” Omtrent 30 km noord van Pelgrimsrus sink die rivierbedding vinnig benede die omringende landskap weg in ‘n smal kanaal met steil wande wat al hoe dieper word tot by Bourke’s Luck, waar die Treurrivier die Blyderivier reghoekig vanaf die suidooste binnevloei. In die somer veroorsaak die kragtige samevloeiing van vloedwater hier ‘n sterk maalstroom”.

Die voortrekkerleier, Hendrik Potgieter het in 1844 ‘n ekspidisie na Delagoa Baai aangepak om die handelsroete na die Portugese oop te stel. Die res van die groep trekkers, vrouens, kinders en weerbare manne moes op hulle wag, omdat dit reeds tyd vir die somerreëns en malaria was. Toe Potgieter nie op die verwagte tyd terug keer nie het die wat op hom gewag het, hoop opgegee om hulle weer lewend te sien. Die vermoede was dat malaria ook hulle lewens soos talle ander, geeis het. Hulle het die rivier die “Treurrivier” genoem en begin trek. Groot was hulle vreugde toe Potgieter se groep weer by hulle aansluit. Daarom het hulle die stroom “Blyderivier” genoem.

(Die naam het in 2005 verander na Motlatse Rivier.)

Interessant dat die Treurrivier by Bourke’s Luck by die Blyderivier aansluit. “Die maalgate het die naam gekry van een van die vroeë delwers wat gelukkig genoeg was om op die plek ‘n fortuin in goudklonte te win.”

Verder met die stroom af kry ons die Drie Rondawels en verder oos is die plat kruin van Marepe, byna 2 000 m bokant seevlak. “Die magtige “hekpaal” van die poort waardeur die Blyderivier uiteindelik die Laeveld binnevloei om by die Olifantsrivier aan te sluit.” Skryf Alf Wannenburgh.

Marepeberg ook bekend as Mariepskop:

Marepeberg, Mariepskop of voorheen Maholoholo (die baie grote) genoem, was ‘n toevlugsoord vir die Pedi- en Pulana stamlede wat na die Laeveld gevlug het om van Silkaats af weg te kom. Van hier kon hulle hulle ook teen die Swazi’s verdedig wat die hele gebied tot by die Olifantsrivier as hulle gebied beskou het. Saam met hul leier Marepe kon hulle die kruin deur die smal dwarsgange bereik en die Swazi aanvallers afweer deur rotse op hulle af te rol.

Vanaf 1950 is die pad en ander infrastruktuur gebou sodat die weermag ‘n militere radarstasie daar kon vestig,

Ons kon nou met die pad vanaf Kamperrus se kant af teen die berg op ry. Die pad is in ‘n baie swak toestand, slote gespoel en glad nie instand gehou nie.

Die Drie Rondawels.

Magabolie, Mogoladikwe en Maseroto is drie koppe wat die vorm van rondawels het en uit enige hoek duidelik sigbaar is. Hulle troon 700 meter oor die omgewing uit. Daar word ook na hulle verwys as die ligendariese hoof van die Bapedi’s, Maripi Mashile en sy 3 moeilike vroue.

Swadini Forever Resort

Winter tyd vlug ons vir die koue, maar Junie en Julie kan dit ook nogal koud wees in die Noordelike Drakensberge, veral by Swadini Forever kom die son laat op en gaan ook vroeg onder. Daarom verkies ons Augustus, terwyl dit nog koud by ons huis is, maar warm by die ATKV Eiland en in die Krugerpark. Die lieflike plek is weggesteek in die Blyderivier Vallei, onderkant die Blydepoortdam. Van hier kan ons die omgewing lekker verken.

Van Swadini af is Hoedspruit ons naaste dorp. Daar is heerlike koffiewinkels en eetplekke. Ons geniet die slaghuise se lekker vars vleis en veral die wildsvleis en wors. Daar is ‘n apteek en haarkappers. Selfs ‘n pragtige lughawe as iemand wil kom kuier.

Ons besoek ook die plaaswinkel, naby Swadini vir gedroogte mango’s, makadamia-neute en ander gedroogte vrugte.

Swadini is ‘n mooi netjies toegeruste kamp met pragtige grasperke en groot bome. Die badkamers vir die kampterrein word mooi skoon en netjies gehou. Die warm water swembad is miskien nie so warm soos jy daarvan hou nie maar die winkel maak weer daarvoor op.

Elkeen kamp op sy manier en bly baie lekker. Ons was so gelukkig om onder ‘n lieflike Jakkalsbessie, met 8 stamme, kamp te kon opslaan.

Staproetes en wilde diere.

Die staproetes teen die rivier hou ons ure besig. Om elke dag dieselfde roete te stap maak ook nie saak nie, want soos die son skuif lyk dit anders en sien ons dinge raak wat ons nog nooit voorheen gesien het nie. Hier moet jy maar wakker loop en nie te lank teen die water sit of staan nie. Seekoei en krokkedil loop ook hier en soek maar altyd iets om te eet.

Natuurlik sorg die bobbejane en ape altyd dat die adrenalien pomp en die bloeddruk styg. Hulle gebruik jou tent vir ‘n glyplank of steel jou vrugte.

Ons kampers staan maar saam, pas mekaar se kampe op. Die personeel doen ook moeite om hulle te verwilder. Alle kos moet maar weggepak en toegesluit word.

Die koedoes wei rustig deur die kamp. As jy ‘n wortel of ‘n groenblaar vir hulle hou kom eet hulle dit uit jou hand.

Vlakvarke kom maak ook ‘n draai op die groen grasperke.

En dan natuurlik die verskillende voëls. Met ‘n verkyker en jou kamara kan jy ure na ‘n vreemde voëltjie soek. Hy moet geidentifiseer en op die “Roberts bird guide 2” app aangeteken word.

Ons het die Jakkalsbessie met ‘n Bosuil gedeel. Deur die nag kon ons hoor hoe die paartjie mekaar roep.

Bome wat jou asem wegslaan.

Jy stap deur ‘n woud langs die rivier. Daar is moeite gedoen om elke boom te merk. En almal is inheems, en kom natuurlik in daardie omgewing voor. Hulle groei hier weelderig want daar is genoeg water en die regte temperatuur.

Blydepoortdam en die bootritte.

Die “gravity-arch” wal is net na die invloei van die Orichstad rivier in die Blyderivier, gebou. Hier is ook die diepste punt van die dam. Die wal is in 1975 voltooi en is 71 meter hoog, 240 m lank en 30 m op sy breedste plek. Sy maksimum inhoudsmaat is 54 miljoen m³. Die grootste oorweegrede vir die bou van die dam was om water vir die myne in Phalaborwa te voorsien, maar ook vir besproeing in die onmiddelike omgewing.

Die bootrit op die dam was vir ons iets besonder. Ons gids, Tulani doen nie net ‘n werk nie, dis sy lewe. Hy is ‘n boorling van die omgewing. Hy is ‘n paar tale magtig en ken die geskiedenis.

Kadishi tufa waterval.

Die besondere waterval wat net vanuit die dam gesien kan word, lyk soos ‘n hartseer gesig, veral as die waterval loop lyk dit soos trane, daarom word dit die “hartseer gesig van die natuur” genoem. Dit is een van die lewende seldsame tufa watervalle. Blykbaar die tweede hoogste tufa waterval in die wêreld. Dit val 200 m van die sandsteen wal af tot in die dam.

Tufal watervalle word oor baie jare gevorm deur die water wat kalsium uit dolomiet rotse waaroor dit vloei, absorsorbeer. Die mos wat op die rotse groei stel koolstofdioksiet vry wanneer dit fotosinteer, wat veroorsaak dat die kalsuim in die water tufa lae op die oppervlak van die waterval vorm. (Byna kristaliseer) Die water bly oor en onder deur die lae loop.

Bibliografie:

Wannenburgh, A. (1984) “Die Natuurwonder van Suider-Afrika” C. Struik (Pty) Ltd.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.