Hiervan is maar min in ons hartsland, daarom is daar soveel waardering vir elke boom wat sy staan staan en sy beskeie taak verrig.
Die Kameeldoring, die bekendste en algemeenste.
(Vachellia Erioloba)
Die geharde, stadige groeier vat jare om ‘n merk te maak. Hy oorleef geweldige droogtes maar groei weelderig as sy wortels water raak groei.
Hulle groei in rivierlope of in die sagte sand teen die duine. Dit is dan ook ‘n aanduiding waar daar vir water geboor kan word.
Die klein blaartjies is ‘n grys groen kleur sodat die sonstrale weerkaats om verdamping te beperk. Hy het ‘n growwe bas met donker rooi harde hout. Dit is die beste vuurmaakhout wat jy kan kry.
Die blomme is geel stuifmeelballetjies wat baie kermerkend ruik. Sy peule is grys en wollerig met groot swart pitte. Die groter wild en bees vreet graag die peule wat die pitte met hulle mis versprei. In ou krale of plekke waar diere slaap kry mens groot groepe van die ou staatmakers.
Waar hy staan is skadu, blare, peule en blyplek vir elkeen wat daar verby gaan.
Die versamelvoëls is nie die enigste wat in hom nes kom maak nie. Dikwels kry mens ook ‘n uil wat op sy dik takke broeiplek kry of ‘n kat wat lekker slaap. In die gate in die stam is muise en ook slange.
Of ‘n trop skape wat in sy skadu rus.
Die groot grasneste is dikwels ook die ondergang van die ou staatmakers. Die weerlig slaan dikwels die droë gras aan die brand of die reën maak die gras so swaar dat dit die takke of soms ook ‘n hele boom, laat breek.
Kameeldorings kry mens regoor die hele Namibie. Hier is ‘n paar plekke waar ons hulle gekry het.
In die suide, tussen die duine.
In die Tirasberge: Koiimasis en Namtib
By Sossusvlei en die Dooievlei, in die Tsauchabrivier sorg hulle vir die skouspel van dooie bome.
Vaalkameel. (Acacia haematoxylon)
Die vaal !ja soos die Nama volk hom noem word selde ‘n groot boom. Dis dikwels ook maar net ‘n struik of ‘n klein boompie. Hy is oortek met lang grys dorings.
Die vaalkameel kom algemeen in die rooisand voor. Die blare is liggrys en die stamme donkerbruin. Sy lang dun peule is liggrys en wollerig. Die diere vreet dit ook baie graag. Dikwels staan die bokke op hul agterpote om so hoog as moontlik te kan vreet.
Die Vaalkameel was op ‘n plaas in die Kalahari. Dis net in uitsonderlike gevalle dat die boom so groot word.
ARUHOUT/AROEHOUT (ALBIZIA ANTHELMINTICA)
Ook bekend as die Wurmbasvalsdoring of Oumaboom.
Tenspyte daarvan dat die boom redelik wyd verspreid in Suidelike Afrika voorkom is dit onbekend omdat dit feitlik heeltemal uitgewis is.
In die Suidweste van Namibie of te wel in die Kalahari is dit ‘n besondere boom waarmee veral meubels in die pionierjare gemaak was.
Connie Zondagh skryf in sy boek “Opskure Pioniere” soos volg:
“Die naam Arahoab is afkomstig uit die Namataal, en word genoem Aru/hôab. Die Aru is die Aro wat orals in groepies op die Kalahari-duine voorkom. (Aru is die meervoud, en Arub die enkelvoud.) Dit is ‘n doringlose boom met ‘n gladde bruin stam. Die jonger lote is blinkbruin, met effe silwerkleurige blare, amper soos die van ‘n olyfboom. Die blaarstingelstjies is meestal 90 milimeter lank en minder as een milimeter dik. Dit vertak na twee stingeltjies wat elkeen meestal agt blare het, vier aan elke kant. Die aartjies op die blare versprei soos die vere van ‘n voël .Die ovaalvormige blare is ongeveer vyftien milimeter lank. Gedurende blomtyd is die boom oortrek met pragtige liggeel blommetjies.
Die boom staan ook bekend as die oumaboom. Omdat die hout redelik sag is, is dit die ideale boom vir voëlente om op te paratiseer. Dit laat die takke langsaam afsterf, so erg dat die voëlent ook later doodgaan. Die arotakke raak later verwronge en as die dooie voëlent na ‘n paar jaar verweer en afval, laat dit reuse houtblomme agter. Vandaar dan ook die naam arorose. Nieteenstaande die feit dat houtwurms baie lief is vir hierdie boom is, kan dit ook as ontwurmingsmiddel dien. Dit is baie doeltreffend teen inwendige parasiete by mens en dier. Dit boom het pragtige bont hout met stylvolle patrone in streperige wit en rooi. Dit het ‘n fyn grein en maak baie mooi meubelment of ornamente.
Die laaste gedeelte/Hôab beteken “kat”. Die naam hou heel moontlik verband met een of ander soort kat, soos byvoorbeeld: ‘Die plek waar die tier in die aro gelê het’. ‘n Luiperd is daardie tye nog ‘n tier genoem. Hulle het ook van die groot kat gepraat.”
KOKERBOOM
In die ware sin van die woord is ‘n kokerboom nie eindlik ‘n boom nie maar behoort aan die vetplant groep waarvan die alwyn ook deel uitmaak. Dis ook ‘n baie geharde stadige groeier. Hulle geel blomme verskyn in die winter. Die sade is kapsulvormig.
Die San het die bas en stam van die bome gebruik om houers of kokers vir hulle giftige pyle te maak.
Hulle groei in woestyn- en halfwoestyn gebiede veral teen of naby granietkoppies. Noord-oos van Keetmanshoop is die kokerboomwoud. (Maak gerus tyd om aan te gaan en foto’s te neem)
MORINGA, Die Sprokiesbome van Etosha.
Die besondere boom vind ons meer in die noorde of op die Khomashoogland, wes van Windhoek. In Etosha groei hulle weelderig teen die koppies by Halali. Die “Sprokies woud” in die weste van Etosha is ook Moringa bome. Daarom verwys hulle dikwels na die Moringa as die “Phanton tree”.
Die grootste Moringa kan in die botaniese tuin in Windhoek gesien word.