Elke jaar Maart of April gebeur die ding in Heidelberg in die Wes Kaap.

Maar dit is nou nie waar dit begin nie. Maande voor die fees word pampoenpitte ingevoer, uitgeruil en geplant. Raad en bystand word vroeg al gevra, maar elkeen bewaar sy resep. Pitte word in die beste grond geplant eers binnenshuis en later word die plant na buite verplant. Elke dag word die plante natgemaak. Pampoen mag net nie in die modder le nie.
Van jongs af word pampoentjies gespuit en gepamperlam. Later word hulle soos ‘n baba opgepas. Daar mag geen skrapie of steek aan kom nie.
Kleiner pampoene word uitgedun, net die beste mag bly. Dit word weer en weer uitgedun totdat net die grootste, sterkste en mooiste oorbly. Die beste kry die beste en groei nou fluks. Die stingel wat kos en water na pampoen vervoer is so dik soos ‘n tuinslang. Pampoen kan tot 200 liter water per dag absorbeer. Nou vra pampoen nog meer sorg, aandag en oppas. Pampoen is maar broos en bederf maklik.
As die groot dag aanbreek word Pampoen met ‘n laaigraaf op ‘n voertuig gelaai. Alleen, in doeke toegedraai. Geen skrapie of merkie mag aan hom kom nie.




Pampoen word geweeg. Elke eienaar staan by om seker te maak daar word geen foute gemaak nie. Daar is ‘n stewige prys om met jou Pampoen te wen.
Pampoen word saam met die ander in ‘n ry gepak. Nog steeds word Pampoen opgepas. Daar mag geen skrapie wees nie.
Daar word gekyk, bespreek en gewag. Die grootste Pampoen is nie noodwendig die swaarste nie. Kort voor sluitingstyd kom die laaste Pampoen in. Almal wonder of hulle ver moes ry, byna te laat was ……… miskien van spoggerigheid, dalk is sy Pampoen die grootste?
Daar is stalletjies met heerlike kos en drinkgoed. Almal eet en drink nou maar, want daar moet nou gewag word tot die wenner bekend gemaak word.





Dan word die Wenner bekend gemaak.

Willem le Grange van Ruiterbos naby George is al vir ‘n paar jaar die Pampoen Kampioen.
2021 het sy Pampoen 867,5 kg geweeg en was die prys R17 500.00. Met die pampoen, Tornado het hy alreeds die Suid Afrikaanse rekord verbeter.
2022 het sy Pampoen, Sophia 904,5 kg geweeg. Dit was ‘n nuwe Suid Afrikaanse rekord as ook ‘n rekord vir die suidelike halfrond en die prys R30 000.00.
2023 behaal hy ‘n driekuns met sy Pampoen, Weeskind wat 903 kg weeg. Hy het met R20 000.00 in sy sak weggestap.
Willem hou van uitdagings daarom is sy doelwit 1 226 kg, die rekord van ‘n Italianer in Tuscany.