Koimasis in die Tirasberge is een van die mooiste kampe waar ons nog gekamp het.

Dit was Mei 2016 toe ons in die nag by Koimasiskamp in die Tirasberge van ‘n dreuning wakker skrik.  Jou eerste gedagte ‘n trein, maar hier is geen treinspoor nie, net nie ‘n aardbewing nie, maar dan tref dit ons.  Ons boswa ruk heen en weer.  Ons vrees die tent skeur.  My man spring op en anker die toue aan ons Toyota bakkie.  Met so ‘n ruk wind is enigiets moontlik.  Ons vriende slaap bo op hulle Triton in ‘n daktent aan die kant waar die wind vandaan kom.  Dit vorm darem ‘n bietjie van ‘n skerm vir ons.  Geleidelik raak dit rustiger en ons raak weer aan die slaap net om die volgende oomblik weer wakker geruk te word.  So het dit ‘n paar keer gebeur voor die woestynwind sy laaste asem uitgeblaas het. 

Koimasis is een van die ongelooflikste kampe in die suide van Namibië.  Hier maak die Tirasberge klipstapels met sandvalleie en groot rotsplate.  Die hoë rotswande aan die oostekant van die kamp vorm terasse waarop die arende broei.  Van ons kamp kon ons hulle dophou as hulle die kuikens voer of met die roofvoëls oorlog voer.

Met sonsopkoms en ondergang verkleur die rotse salmpiek.  Dis die beste tyd vir foto’s.

Beslis een van die mooiste kampe in die suide. ‘n Kamp wat mens kan aanbeveel.

WYSIG

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.