Goanikontes is ‘n regte oase in die Swakoprivier in die Namib. Dit word omring deur die maanlandskap en van hier kan jy die omgewing verken. Reeds van die vroegste jare is die oase in die Swakobrivier gebruik vir ‘n oornagplek vir mense wat van Swakopmund af na die binneland gereis het. Daar is groente en selfs katoen en lusern geplant. Dit was ‘n plaas, maar vandag is dit een van die gerieflikste kampe in die Namib.



Jou beste pad na Goanikontes is vanaf die B2, dit is die teerpad na Usakos. Dit is ‘n baie goeie grondpad. Ek sal selfs met ons polo daar ry. Die ander pad, C 28 loop deur die woestyn en is baie sleg. Dit is die roete na uitkykpunte vir die maanlandskap en ander besienswaardighede wat deur die Namibiese parkeraad aan beveel word.



Die kampterrein is pragtig onder groot Pusopusbome uitgele. Daar is kampplekke met hul eie badkamers en opwasbak. Ander het ‘n gesamentlike ablusiegeriewe. Die wooneenhede het nie lugreeling nie.

Ek kon my verlustig en verkyk aan al die ou werktuie wat hulle kant gebring het. Alles is ook keurig uitgestal en kom tot hulle reg hier waar hulle die woestyn help tem het.
Dis ‘n stywe stappie bult uit na hierdie lieflike uitkykpunt maar beslis die moeite werd.




In die restaurant kan jy jou ontbyt op die ou Toyotabakkie eet.

Dan kan jy ook besluit met watter voertuig het jou oupa gery of self kyk watter een is in die jaar wat jy gebore is, gemaak. (As jy oud genoeg is.)
Dan is daar interessante inligtingborde.



Moet nie die restaurant onderskat nie. Ons het swartwoud – en wortelkoek en tee daar raak geloop.


Die museum vat mens terug in tyd maar het ook mooi kaarte en lugfoto’s.



Waarvoor sou die twee sit en wag of het hulle die bus verpas. Martin Luther sou dalk ook hier verby gaan. (Het jy na Martin Luter, in sy glaskas kort voor Swakop, gekyk?)

Hoendertjies wei daar rond en in die hokke is plaasdiere. Op die dam swem eende en ander watervoels.


Die mak steenbokkie en selfs twee ponies het by ons kom besoek afle.

Die vlakte spekvreter was die beste, hy het agter my aan gehardloop totdat ek vir hom ‘n doppie water uit my bottel aangebied het.



Mens kan ook in die rivier na die binneland toe ry maar vir daardie sand het jy ‘n 4×4 nodig.

Dit is beslis die moeite werd om ‘n tyd in die onherbergsame omgewing deur te bring.

















