Sandvishawe, suid van Walvisbaai.

Sandvishawe, soos ons in eg Namibiese Afrikaans praat, oftewel Sandwich Harbour, is 36 km suid van Walvisbaai geleë.

Dit was nog altyd op my “begeerlysie”.  Dit is erge duine met baie los sand of teen die see kan mens net met laagwater ry anders druk die golwe jou teen die duine was, soos by die seekus van die dood. Verder is dit ook bewaringsgebied, Namib Naukluft park, jy moet die regte permit hê. Dit kos ook maar ‘n arm en ‘n been om met ‘n begeleide toer te gaan.

Ek spaar geld maar een keer in my lewe wil ek dit sien en ervaar.  Remmie neem ons met een van die sterkste voertuie op die mark.  Hy ken sand en die omgewing.  Hy wys en vertel teveel om te onthou. 

Om by die unieke plek uit te kom moet jy verby die lagoon en die Soutpanne met sy ryk voëllewe ry. Dit vorm deel van die belangrikse vleilande van Suidelike Afrika.  Die pienk kleur van die Soutpanne met die pienk flaminke vang jou oog vas.  Reusagtige duine loop hier teen die see dood of vorm diep kolkgate na die woestyn se kant toe.

Hier wei springbokke, gemsbokke en volstruise.  Jakkalse soek robbe vir kos op die strand.  In hierdie niks groei die geharde !nara plant met vrugte wat die diere eet.  Gemsbokke grawe gate tussen die duine en as die water uitsyfer kom drink die ander diere saam.

Hier is selfs tekens van mense wat ‘n bestaan probeer maak het.  Hout vissershuisies en selfs ‘n kopbeen (wat sal sy storie wees?) wat oopgewaai het. 

Die vleilande by Sandvishawe lyk asof dit ‘n riviermonding kon wees.  Daar is ook ‘n poging aangewend om daar ‘n hawe te bou. Om dit deur die woestyn te bereik is ‘n onbegonne taak wat baie sou kos. Daarom is die besondere area slegs beskore vir die natuurliefhebbers of vir die avontuurlustiges.

Remmie ken die sand en die duine, jy moet weet hoe om tot bo te ry en weer teen die skuinste af te gly en later te kan ry.  As jy skuins ry sal jy beslis af rol in plaas van ry.  Die son maak ‘n skerp weerkaatsing op die sand wat jou verblind. Die wind waai die kruine van die duine skerp. Hierdie pret is net vir kenners.

Remmie wys ook vir ons hoeveel yster daar in die sand is. Hy vryf ‘n magneet in die sand en siedaar, soos hare op ‘n hond pak die ysterdeeltjies aan die magneet.

Dit was beslis nie ‘n goeie dag vir foto’s nie. Mens wonder altyd moet mens die oomblik beleef of moet mens dit vir ewig op ‘n foto vaslê.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.