

Dit was in die begin van die 60’s wat ek vir die eerste keer saam met my ouers in Walvis was. My pa se broers het in die visfabrieke gewerk. Ons was so bevoorreg om ingelegte vis by hulle te kon kry. Ek onthou dat ek selfs daarvan kon saam vat koshuis toe. Die sardiens in olie was toe nog in groot blikke ingelê. Elke middag na studietyd het ons so ‘n blik oop gemaak, die vis fyn gemaak en dit saam met die olie met beskuitkrummels gemeng en geeet. ‘n Koshuiskind kon aan enige iets smul asof dit die heerlikste gereg is.
Walvisbaai is die tweede grootste stad in Namibië,maar die grootste kusstad.
Volgens Wikipedia is Walvisbaai ‘n natuurlike veilige diepwaterhawe vir skepe wat deur Pelican Point skiereiland gevorm word. Ryk plankton en seewier in die water lok groot getalle suidelike walvisse wat weer walvisjagters en vissersvaartuie lok. Die hawe was ook ‘n diepwater-ankerplek vir die Suid Afrikaanse vloot se skepe en sedert die middel 70’s is uraan van Rössing uitgevoer.
Die dorp is in die Kuisebrivierdelta geleë, ‘n gedeelte is onder seevlak (1,2 meter). ‘n Dyk beskerm die deel van die dorp teen oorstromings.
Die lagoon is ‘n voëlkykersparadys.



Dis later as wat ons gewoonlik wat ons by ons vol kampplek aankom. Ons het nie by die Lagoon Lodge bespreek nie, maar tog kan ons in hierdie mooi netjiese kamp ons plek uitsoek. Ons is min in die kamp. Die badkamers is skoon en netjies met heerlike warm water. Nadat ons op geslaan en gestort het bederf ons ons self met vis en tjips in hulle restaurant. Daarna klim ons in eie bed in die boswa. Dit bly maar altyd vir my baie spesiaal.
Vir die toeris bied Walvisbaai ‘n verskeidenheid avonture. Daar is boodritte, jy kan met die kano op die lagoon vaar om die robbe en dolfyne te sien. Daar is ‘n verskeidenheid toere die woestyn in. Verskeie kleiner diere en reptiele leef in daardie sand. Jy kan self ook na Duin 7 ry en kyk of jy tot bo kan klim. (My ma het dit nog op 80 gedoen.) Van hier kyk jy uit oor die see of oor die woestyn.



By die waterfront het die ou pelikaan ons vermaak, sommer so tussen die mense.


Ons was verstom om te sien dat die vissermanne selfs op kersdag voor sonsopkoms “Paaltjies” toe ry om die regte staanplek vir die dag te kry. Families het later agterna gery om groot kamp langs die see op te slaan en groot kerfees te hou.
Maar tog ervaar mens dat Walvisbaai veel eerder ‘n industriële dorp is.




