Soos Rooikappie vat ons die langpad Walvisbaai toe. Die korter pad (C14) lei mens tussen die woestyn en die Khomas Hochland oor die Kuisebrivier na Walvis. Op die pad is die Gaubpas en word baie deur die toeriste van Swakob na Sossusvlei gebruik. Van Weltevredeplaas ry ons met die C19 tot ‘n paar kilometers voor Solitaire waar ons regs draai tot by die C14. Hier draai ons links en kry die D1261 waar ons weer regs draai om met die Remhoogtepas tot op die Khomas Hochland te ry.



As die geleentheid hom voordoen sal ons beslis weer die pad ry. Die pas is 47,6 km lank. Pak hom maar met ‘n voertuig met ‘n redelike grondvrye hoogte aan. Die veld is wuiwende blink grassade en die altyd swart koppies is vandag blinkwit. Die rivierlope erg verspoel, soms is daar nog water, sekerlik fonteine wat na die goeie reëns weer begin loop het. By die een plaas ry ons voor ‘n damwal in die Kamrivier verby. Vorige kere het ons gewonder of die dam al ooit water gehad het. Vanjaar is dit van kant tot wal vol.



Die moeilikste deel van die Remhoogtepas is ook geplavei. Dis ‘n plesier om daar te ry. Mens kan sien dit het erg verspoel, maar ons ry stadig, geniet dit en is saam met die boere dankbaar. Daar is rivierlopies met die mooiste bome. Teen die koppe is bome met ligbruin basse wat lyk of hulle afdop. Hier groei die moringabome ook welig. ‘n Gesin vlakvarke draf fluks voor ons oor die pad, almal se stertjies regop.
Op die Khomas Hochland gaan ons by plekke verby met name soos Achab, Lepel, en by Nauchas draai die pad na Namibgrens gasteplaas. Hier het ons nou al twee keer lekker gekuier. Hulle kampterrein is iets besonders en ‘n besoek werd. Hier het ons vir ‘n mak sebra weggejaag, as hy by jou voertuig kom byt hy die spieeltjies of net waar hy bytplek kry. Sy ma is dood toe hy nog ‘n vulletjie was en hy is met ‘n bottel op die plaas groot gemaak.










Die Spreetshoogtepas na Solitaire begin hier. Dis die stylste pas in Namibië en daar mag nie sleepwaens getrek word nie. Die draaie is baie skerp en daar is min ruimte langs die pad.








Ons hou verby na die Gamsbergpas. Ons kruis die Wiesenfellsrivier ‘n paar keer.
Van hier kan jy Namibiëse eie Tafelberg sien. By Hakos, die grootste sterrewag in die land kan jy die sterre kyk. Van die“Namib’s Valley of Thousand Hills” se kampplekke kan jy oor die vallei met sy heuweltjies uitkyk. Die Gamsberg is ook van hier duidelik sigbaar. Dit is die derde hoogste berg (2347 m bo seespieël) in Namibië.










Die pad is verbasend goed. Dis ‘n plesier om daar te ry, maar dan word die geheim van die mooi pad ontrafel. Botter op ‘n skaper het in gespring om die reën se skade aan die pas te herstel. Ons stop by hom. Hy is sekerlik bly om ‘n rukkie bene te rek. Hy vertel ons van baie jare se droogte waar hy heeltemal uitgeboer het en van 400 mm reën wat vanjaar geval het. Hy is besig om tydsaam die pad teen die 10 km pas af te herstel. Ons moes stop en van die pas aftrek sodat die laaigraaf eers vir ons die pad gelyk maak en vas trap. Te gou is ons onder. Die veld is pragtig. Wuiwende silwer grassade met donker groen bosse en bome. Almal uitbindig na die milde reëns. Voorheen het ons die mooiste koedoes gesien maar vanjaar is hulle skaars. Dis te ruig, ons sien hulle nie. Sou die droogte ook sy tol geeis het of dalk soos op ander plekke, hondsdolheid?












Dan is die lekkerte van die Gamsbergpas verby. Die pad kronkel nog deur die klowe en rivierlope tot ons onder is. Hier loop ons ‘n bloutjie. Ons het by die Rooisand Desert Ranch bespreek. Hulle is nie eindlik op kamp ingestel nie. Daar is maar min moeite met die kampterein gedoen en ons besluit om tot in Walvisbaai te ry. Soos gewoonlik is die pad in die Kuisebpas maar grof. As dit nie vir die rante was wat toe was onder die blink wuiwende gras nie sou dit maar ‘n moeilike rit gewees het. Daar is ook water in die Kuisebrivier.











Die Kuisebrivier ontspring in die Khomas Hochland naby Windhoek en loop nie meer deur tot by die see nie. Die Noordwaartse beweging van die duine blokkeer sy vloei. Dit vloei twee of drie weke in ‘n jaar as daar genoeg reën in die opvang gebied val. Die rivier is ‘n tipiese woestynrivier met landbou teen die bolope en ‘n digte menslike bevolking by die monding. Alhoewel die water by Homeb in die sand verdwyn is dit tog moontlik dat dit met stortreën en oorstromings sy weg deur die woestyn sal kan baan tot by die see. In 1934 het die Kuisseb verskeie maande gevloei, gewoonlik in Januarie, Februsrie of Maart. In 1963 het dit weer gebeur en in 1997 het dit die soutmakery suid van Walvis bereik.

Die Kuiseb vorm die skeiding tussen die sandnamib en die klipnamib. Suid tot by die Oranjerivier lê die sandnamib en Noord tot by die Kunenerivier is die klipnamib. Hier vind ons baie unieke natuurtonele met die masiewe rooiduine (tot 150 meter hoog) op die suidelike oewer en die noordoewer wat uit pikswart rotsformasies gevorm word. En dan natuurlik die groot endemiese bome in die rivierbedding. Die duine nader aan die see is ligter, perskekleurig agv die see en in die binneland is dit donkerder, rooi.
Ons vind tien houtagtige plantspesies hier, trosvye en melkbome groei in die rivierbedding. Die salvadora, ‘n heldergroen bossie, groei in die rivierloop en die narra word op oewers tot ver in die duine aangetref.
Springbokke en gemsbokke wei op die grasvlaktes, gevlekte hienas en jakkalse kan in die nag gehoor word en luiperds en klipspringers woon in die rante.
Die Kuisebvallei is die woonplek van ongeveer 850 Topnaars, nomadiese vee boere. Onder baie moeilike omstandighede is die boere gelukkig. Dit is hulle kultuur en tradisie.
Volgens die Weg, Namibië 2012, kry die nasionale park sy naam van die Topnaars, Dorop wat beteken droë woestyn. In Nama sê hulle die water het droog geword, die grond het droog geraak, die weiding het droog ook geraak en die mense moet nou trek na groener weiveld ….. “doro-!hub.”
Kuisebcanyon is ryk aan geskiedenis. Dit is hier waar Henno Maartens en sy vriend (Vlug van die Namib, ook in Duits en Engels) tydens die Tweede Wêreldoorlog geskuil het.



Hier is ‘n paar lekker kampplekke. (Onthou jy moet ‘n permit by die Misterie van Omgewing en Toerisme in Windhoek, Swakop of Sesriem kry.) Teen die rivier is Homeb, maar jy moet jou eie was- en drinkwater bring. Daar is nie veel geriewe nie. Die bome in die rivier is pragtig maar die sand diep en los. Dis ook naby die woongebied.
By Vogelfedderberg is ook lekker plekke, teen die berg en lekker skaduwee, ongelukkig naby aan die pad na Walvis. (C14)
Mirabib is ons nommer een keuse.








Ongerep, swak geriewe, bring jou eie water. Ons besluit om Noord-oos (aan die woestynkant) van die berg op te slaan. Die voordeel is dat mens vroegmiddag al skadu het. En agter die berg skuil as die wind van die see (wes) af kom, maar as hy draai en uit die woestyn kom, kan hy jou rondruk.








Dit is veral die swartsakke vol stortwater wat op die klippe in die son warm gemaak word om ‘n buitelugstort te vat wat vir ons groot genot verskaf.