Weltevredeplaas

Weltevredeplaas

Weltevrede plaas verwelkom ons met sy pragtige kameeldoringbome.  Op nommer 1 waar ons afpak is twee tamaai bome wat vir ons letterlik heeldag skaduwee gee.  Die braai- en opwas area met ‘n kraan, kragpunt, bankies en ‘n tafel is ook heeldag in die skaduwee. Alhoewel die badkamer bietjie ver is, het ons tog ons eie badkamer.  Dit laat ons altyd baie spesiaal voel. 

Hier pak ons af om te rus en die natuur te geniet.  In die nag hoor ons die uile, grondgeitjies en jakkalse, in die dag kuier ons met die bergwagtertjies en die bosbontrokkies.  Willie wys vir ons sy groentetuin en bederf ons met marankas, selfs ‘n paar vir die pad.

Ons gaan drink tee by Solitaire en kuier met almal wat met ons wil kuier.  Ons informante vertel van Swakop se lekker bederfplekke.

Sesriem is 50 km van hier.  Ons moet vroeg opstaan om 7 uur by Sossusvlei se hek in te ry.  Kort voor die afdraai na Sesriem kry ons ‘n groot trop gemsbokke.  Vanjaar is hulle vreeslik skaars.  Die wat weet sê omdat dit so goed gereën het verkies hulle om ver weg van die paaie af te wei. Ons het die bar klipkoppies nog nooit so onder die gras gesien nie, blink wuiwende gras, so ver as jou oog kan sien. 

Die sagte oggend lig gee die duine ‘n besondere  diep kleur.  Die kontras tussen die sonkant en die skadukant maak dit altyd besonder.  Ons pak die laaste 5 km sand aan.  Dis so los soos ons dit nog nooit gekry het nie.  Die Toyota beur met al sy kragte deur die sand en ons stop verlig by Dooievlei se parkeerterrein.  Nou is dit ons en die sand.  Ons stoom en stoei vir ‘n paar foto’s, maar dis alles die moeite werd as mens oor daardie laaste duintjie kan sien.  Dooivlei met Big Daddy agter begroet ons.  Big Daddy is een van die hoogste duine in die Namib. Ek het hom nog uit geklim nie.  

Maak nie saak hoeveel foto’s jy al hier geneem het nie daar is altyd nog iets wat jy kan fotografeer, altyd iets nuut.  Die dooie bome se hout is so bros selfs al druk jy net daarop steek die splinters in jou. Dis die vyfde keer wat ons Sossusvlei besoek maar net die vierde keer wat ons die duin na Dooievlei oorsteek.  Ek wil nog graag van die Versteektevlei tot in Sossusvlei loop, eendag.

Versteekte vlei is suid van die parkeerterrein.  Net so 1 km se stap oor ‘n plat duintjie, maar dan loop hy gelyk af na Sossusvlei se kant.  Lyk na ‘n lekker stappie

Terug by die voertuig ry ons verder tot by Sossusvlei.  Onder een van die groot kameeldorings (almal is nie dood nie) drink ons tee en eet koue wors en broodjies.  Selfs dit smaak lekkerder as op ander plekke.  Ons stap oor die droë deel van die pan.  Onder die droë kleiskilfers is nog modder.  Die stuk voor die duin, Big Mummy, is nog onder water.  Teen die duin rank ‘n duwweltjie met goudgeel blomme. Dit vervolmaak die prentjie van duine en water. Ai, moet ons regtig weer weggaan?  Ek wil dan nou net hier bly, so ‘n stukkie hemel op aarde.

Rustig ry ons terug met die teerpad.  Ons harte bly agter.  Ons verlustig ons weer in die Tsaugabrivier se loop aan die duin se voet, die dooie bome en die duine met hulle skerp gewaaide kruine.  Die duingras het duideliker polle hoër op teen die duine. Dan is ons uit by die hek. 

Gelukkig is die Sesriem canyon darem ook nog daar. Jare terug het die boere sesrieme aan mekaar gebind om water vir hulle diere uit te trek.   Die kante is maar styl en die klippe los.  Jy moet jou trap ken om nie tot onder te gly nie.  Vanjaar is daar groot poele water onder soos die Tsaugabrivier afgekom het. ‘n Paar jongmanne kom nat met kaal bolywe van onder af. Hulle sê die water is nogal diep en lekker koud. Ons sal maar net van bo af kyk. Ons was al onder en het ons verlustig in die swaelnessies teen die walle.  Die walle is modder met spoelklip.  Voel of dit op jou kan instort.

Een groot lekkerte van Weltevrede wat ons altyd sal onthou is die spesiale vergunning om tot in die Naukluft berge te kon ry en nog ‘n stukkie verder te kon stap ook.  Hier het ons koedoes gekry, maar die groen berge, water in die rivier en die blink wuiwende grassade sal ons altyd by bly. Die stilte, net voëlgeluide voed ‘n mens se siel.  Natuurlik was daar iets koel om te drink en ‘n eetdingetjie net om die tyd daar te rek. 

Ons herinneringe aan Weltevredeplaas sal ons altyd laat terug verlang.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.