Maltahohe:

Hier begin ons nou amptelik met ‘n lekker kuier by my Ouboet.  Eers gesels ons oor “Onthou jy nog”

Ons onthou van die wit Studebaker Lark wat van die Nossob af oor die los rooi duine by ons kom kuier het.  Dit wou gedoen wees in ‘n twee spoorpad oor daardie los duine.  Ons onthou daardie groot “tapes” waarop musiek was.  Sekerlik die eerste na die “seven single” plate.  Ons onthou die musiek: “Blue Train” en “Itsy, Bitsy Teenie Weenie Yellow polka dot bikini”.  En ons onthou dit was onder die groot persopusboom by die waenhuis. Dit moes aan die begin 60’s wees.

Maltahohe is op die wal van die Huduprivier, wat met die goeie reëns lekker sterk afgekom het.  Van hier begin die Namibwoestyn. Die dorp is vernoem na die vrou van die Duitse bevelvoerder van die Gibeon garnisoen. (Hauptmann Henning von Burgsdorf)  Die hotel is die oudste plattelandse hotel in Namibie (1907).  Die dorp was ook die hart van die karakoel bedryf.    Die skaapplaas, Nomtsas was met die draai van die eeu 100,000 hektaar groot.  

Mens sien van die pad af die murasies van die karakoel paleis van Voightsgrund op die wal van die Huduprivier.  Pragtige ou geboue wat verwaarloos staan.  In 1907 is die karakoelboerdery hier begin.  Die eerste karakoelpelse is van hier af uitgevoer.  Dit was die beste klimaat vir die teel van die karakoelskaap.  Vandag is dit ‘n staatsplaas en dit sê alles.

Ek onthou daar het heelwat kinders van Maltahohe af in Mariental skool gegaan.  Maar soos die ander skole is die skool hier ook maar verwaarloos. Die sake kern van die dorpie lyk heel sterk. Nadat die karakoel bedryf in duie gestort het, het die dorp hul toegespits op toerisme.  Hier is verskeie gastehuise.  Die hotel staan ook nog sterk. Die Pappot het ‘n netjiese kampterrein.

Die dorp se pragtige ontspanningsgronde met die swembad is toe gegroei onder die gras.

Die oorspronklike NG Kerk word nog as ‘n saal gebruik en die ou Duitse kerk word ook nog gebruik.

Van hier ry ons deur die Tsarisberge.  Ons verkyk ons aan die mooi veld en verlustig ons in die wuiwende grassade. Die Zarishoogte pas is geplavei en ry nou veilig. Onder gaan ons verby die Zarisplaas en besluit dis ‘n bestemming vir ‘n volgende keer.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.