Die langpad – N7/B1 noord tot by Mariental

Die lekker van ver ry begin mos om vroeg in die pad te kom.  Veral vir ons vandag met ‘n vol program voor ons nou regtig die pad vat.  In Worcester moet ons medikasie vir 3 maande kry.  Dit kan een van die besigste dae in die Diskem wees.  Een pas die voertuig op terwyl die ander een pille gaan haal. Met baie geduld en geluk is die taak af gehandel en val ons in die pad en laat Wolsley, Tulbach en Portelville agter. Teen die Pikenierskloof op en dan moet ons by Kardoesie stop.  Na ‘n lekker Springbokpastei en koppie koffie sal ons nou vir Klawer kan haal. Hier moet ons hanepootrosyne, daardie met die stokkies aan, kry. 

Voor ons regtig moeg is stop ons by Garries vir ons eerste nag.  Isamien se gastehuis met ‘n lekker warm stort en lugreëling laat ons dadelik ontspan en rustig slaap.

Dag twee breek aan. Peet van Kuiervreugde op Kamieskroon maak vir ons koffie en ‘n lekker ontbyt.  Nou sal ons hou tot ons weer kos kry. 

Van hier af sien ons al tekens van goeie somerreëns.  Ons daal vining met die Vyfmylpoort af tot by die Oranjerivier wat nog van kant tot wal loop. Dis ‘n gesig wat mens min sien as jy hier oor gaan.

Sommer so deur die bakkie se ruit neem ek vinnig ‘n foto of twee.

Om deur die grens te kom is vandag sommer vinnig.  Ons is alleen daar.  Ongelukkig is daar een man wat moeilik is , maar met vriendelike bedagsame hantering kan ons verder gaan.  Ons respekteer hom, hy is tog sekerlik ook trots op sy werk.

By die garage oor die grens moet ons ‘n NTC simkaart en data kry.  Met ‘n ou selfoon kan ons ‘n “hotspot” maak en ons eie internet hê. 

Onthou, kort voor Grunau die container langs die pad wat lekker wildsvleis verkoop.  Nie goedkoop nie, maar baie lekker.  Die droë wors kan ons aan beveel, as ons deur een pak gewerk het is ons altyd spyt ons het nie nog ‘n pak gekoop nie.  

Die Karasberge is groen en die gras staan blink soos wat ons dit nog nooit gesien het nie. Verjaar staan hulle nie terug vir Natal se groen heuwels nie.   Ongelukkig sit die springkane in rooi swerms op die pad, nou nog in die voetgangers stadium.  Op plekke wissel dit af met koringkrieke wat met hulle knieë hoog in die lug loop. Aaklige kriature wat hulle makkers op die pad sit en eet. Brrrrrrr.

En dan is Keetmanshoop daar.  Gewoonlik stop ons by die garage met die Wimpy maar vanmiddag gaan ons verby.  In die dorp wag Dries vir ons by sy gaste huis in die hoofstraat.  Hy is so lus vir lekker kuier, ons sukkel om die nodige af te laai.  In die pastorie langs die Luterse Kerk voel ons sommer gou tuis.  Vanaand braai ons ‘n vleisie met kole wat Dries vir ons bring. 

Dries vertel vir ons van die Naute-  en Nekarteldam wat nog steeds oor die walle stroom.  Behalwe vir die ou kerk en die pastorie is daar verskeie ou geboue uit die Duitse tydperk.  Die dorp regverdig ‘n ordentlike besoek.  Dink net aan al die spookstories.

Die standbeeld van die man met die karakoelram en ‘n lammetjie in sy arms vat my gedagtes ver terug. Dit was die boerdery in die suide en het ook vir my groot gemaak. Dit was ‘n harde lewe in die kalahari. Later meer daaroor.

Soos dit met vakansie gaan raak ons nou al luier en staan bietjie laat op.  Dit maak nie saak nie, want ons het nog net die laaste trek Mariental toe.  Sjoe, die veld oortref alles. Wuiwende blink grassade.  Mens weet nie waar om te kyk nie. Selfs die dam Noord van Keetmans is vol water, wat vir jare kurkdroog gestaan het. Groot damme water lê tussen die gras.  Brosdorings is toe gegroei met gras.

Brukaros kom en gaan in die verte.

Om soveel gras en nog water ook langs die lang pad is kry is beslis ‘n uitsondering.

MARIENTAL

Mariental of Stofbakkies is my geboortedorp. Vir my voel dit of daar min verandering is. Min verandering, maar beslis uitbreiding. Meer mense, meer huise en ook meer winkels. Windhoek is 274 km van hier. Selfs in die vroegste jare was Mariental daardie streek se hoofsake kern. Boer het van heinde en verre hul diere na die stasie gebring om na die slagpale toe te vervoer. Dan is daar weer boumateriaal of drade, pale en ander benodighede gelaai om die plase te omhein, ‘n huis te bou, windpomp op te sit of voer vir die diere.

Mariental se hoeksteen is in 1912 as ‘n spoorwegstasie tussen Windhoek en Keetmanshoop gele. Dit is in 1920 as ‘n dorp geproklameer en in 1046 as ‘n munisipaliteit. Hermann Brand was die eerste koloniale settelaar wat hom hier gevestig het, vandaar die naam Mariental. Hermann se vrou was Maria of Marie Brand, soos een van die strate ook genoem was.

“Mariental, ons eie skool. Gebou op die bodem van oertydse meer,” was die woorde van ons skoollied. Dit is die Visriviervallei of oertydse meer met ‘n duidelike wal aan die oostekant. Vandaar ook die poeierstof en die naam “Stofbakkies”. Die Hardapdamwal is in 1963 22 km noordwes van Mariental in die Visrivier voltooi.

Ek verstom my aan die verskuiwing in die dorp van onder die treinspoor na bo die treinspoor. Die sake kern was altyd aan die weste kant, die rivier se kant van die treinspoor.  Vanaf 1974 was die dorp verskeie kere onder water.  As die Hardapdam se sluise oopgemaak word druk die water van die ander riviere op en oorstroom die dorp.  Die twee ou hotelle (was dit nou die Mariental Hotel en Sandberg Hotel)  die garage, Van Watsdorfs wat menige boer van vervoer voorsien het, almal staan nou leeg.  Natuurlik dra die feit dat treine nou skaars is by tot die spookdorp effek.  Ek onthou hoe ons in die hotel geslaap het om iemand vroeg op die stasie te kry.  Die dieseltrein se fluit laat my altyd na daardie dae verlang.

Daar is die bewys dat my geboorte by die Leonard Hospitaal wel betaal is. Die ou Leonard Hospitaal, vernoem na Eerwaarde Leonard, wat by die NG Kerk begrawe is, was oorkant die ou NG Klipkerk. Ons almal is daar gebore. Die ou groot gebou met gewels is al jare terug plat geslaan. Ek wonder of daar nog iewers ‘n foto van hom is.   Ek onthou nog vir dr Landsberg wat met sy tassie in sy blou Volkswagen kewer gespring het om met sy vliegtuig ‘n plaas te gaan besoek. Daardie jare het die dokters en predikante nog huisbesoek gedoen.

Dit maak my hartseer as ek sien hoe vervalle en verwaarloos ons koshuise en skole is.  Ons was so opgewonde toe ons nuwe hoërskool koshuise gebou is.  Die laerskool se geboue was oud maar netjies.  Die spoorweg- en staatshuise het ons dorp vol gemaak.  Pragtige tuine met vrugte bome was elkeen se trots. 

In die hoofstraat was ‘n teater waar ons na ‘n film oor die eerste hartoorplanting en die maanlanding gekyk het.  Later is daar ‘n volwaardige fliek gebou. Ons was so opgewonde toe die nuwe fliekteater, Colorado, oopgemaak het en ons Saterdae daar kon gaan fliek het. Selfs Charles Jacobie het daar kom sing. Ons het in massas opgetrek om die bekende sanger te beleef.

Die skougronde met die paweljoen en die Persianer saal is ook nog daar. Dit was ongeveer 1969 gewees wat die laerskool die operette “Repelsteeltjie” daar op gevoer het. Die jongste Van den Bergie het op ‘n stoel voor ‘n mikrofoon gestaan en maak of hy “Speedy Gonzales” se tema liedjie sing terwyl die musiek gespeel het. Dit was die hoogtepunt van die aand.

Natuurlik is die skool se sportgronde ook daar.  Daar is die “Hardap sub unie” byeenkomste gehou.  Dis met so ‘n byeenkoms dat ek op die podium moes geklim het, maar o wee, die een wat hom gemaak het, het hom te smal gemaak.  As ek op geklim het, het die ding omgeslaan.  Ons moes toe maar agter hom staan.

Paweljoen, sportgronde en Hoërskool op Mariental.

So kan elkeen van ons sekerlik baie stories oor Mariental vertel.

Ons drink by Landi se koffiewinkel ‘n lekker koppie koffie. Een van die dames belowe ons as sy groot is kom sy by ons kuier. Sy wil graag ons dorp sien.

Dan is dit tyd om om ons laaste stukkie teerpad Maltahohe toe, aan te pak.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.